Om ’n blommemeisie te wees kan nogal intimiderend wees vir ’n klein dogtertjie en daarom is dit nodig dat sy presies weet wat om te doen. Hier is raad om seker te maak dat jou prinsessie enige bruid se droom is op haar troudag.

Jou vierjarige dogtertjie is deur jou sussie gekies om blommemeisie te wees op haar mooiste dag en jy wil graag hê dat dit vir hulle altwee onvergeetlik moet wees – vir die regte redes. Hier is ’n paar nuttige wenke om in gedagte te hou, sodat jou prinses presies weet wat van haar verwag word.

* Dit is ’n baie goeie idee om eers ’n uur voor die troue jou dogtertjie se rokkie aan te trek – dan het sy heel moontlik klaar geëet, en hande gewas… en is daar nie meer veel tyd vir speel oor nie, want jy wil beslis nie hê dat sy met ’n vuil streep oor haar rok en wang met die paadjie moet afstap nie. Verduidelik nadat haar rok aangetrek en hare gedoen is, weer wat sy moet doen en bly die heeltyd aan haar sy sodat sy rustig en kalm is. Dit is nie die bruid se werk om toesig te hou of te stres oor die blommemeisie nie.

* Dit is baie moeilik om die perfekte paadjie roosblare te strooi. Gesels vooraf met die bruid en hoor of julle nie solank die meeste van die blare kan strooi nie. Dan hoef die blommemeisie net ’n paar vir effek te strooi – maar die paadjie lyk nogsteeds vol, eweredig en mooi. Sy kan ook in daardie geval dalk eerder ’n blommetjie in die hand dra. Baie kinders raak senuweeagtig wanneer hulle voor mense in die paadjie moet afstap, so dit is goed om planne in plek te sit om seker te maak dat alles so vlot as moontlik verloop. As jou dogtertjie ’n mandjie moet dra, of vashou, maak seker dat dit nie te swaar is nie – veral as sy ’n rukkie daarmee in die hand gaan staan.

* Klein dogtertjies is geneig om skaam te wees wanneer die kamera flits. Neem voor die troue ’n paar foto’s by die huis en maak ’n prettige geleentheid daarvan sodat dit nie vreemd is op die dag nie (dit kan nogal ’n lang dag wees vir ’n klein dogtertjie en dan verdwyn glimlaggies en word dit vervang met trane). Verduidelik vooraf mooi hoe dit gaan werk en wees byderhand tydens die fotosessie sodat jy kan help waar nodig. Die belofte van ’n fliek of pop, as sy mooi saam met die oom met die kamera werk, is ook soms ’n goeie idee. Jy ken jou kind en weet wat dit vat om haar te oorreed om die skitterende blommemeisie te wees wat sy veronderstel is om te wees.

* Probeer om voor, langs die paadjie te sit wanneer die blommemeisie moet inloop, sodat sy jou in die oog het en êrens het om heen te stap – veral wanneer die senuwees knaag. Hou ook haar gunstelingbeertjie byderhand waar sy dit kan sien. As die blommemeisie baie seunuweeagtig is, kan julle dalk met een van die strooimeisies reël om saam met haar te stap – dit kan nogsteeds baie mooi lyk. Kry net eers die bruid se toestemming as julle dit oorweeg. As jou dogtertjie ouer is, is dit steeds goed om vooraf te ‘oefen’ sodat sy rustig en op die maat van die musiek kan instap, eerder as om stadig te draf wanneer die oomblik te groot word.

* Die kortste seremonie is heel moontlik te lank vir ’n besige peuter of kleuter om stil te staan – veral as almal vir haar kyk. Stel voor dat sy liewer by jou kom sit gedurende die formaliteite en dan net opstaan indien hulle haar vir iets nodig het. As sy ’n vloermoer gooi, vat haar eerder buite toe om kalm te word, sodat sy nie verrigtinge versuur nie. Onthou om haar geluk te wens en te prys as sy wel haar skoene as blommemeisie volwaardig volgestaan het.

* Jou kleinding sal heelmoontlik tydens die onthaal by jou of die kindertafel sit en nie by die res van gevolg nie. Gaste is gewoonlik mal daaroor om die blommemeisie te ‘ooh en aah’ wat haar dalk verbouereerd mag laat voel. Hou haar dop en as so iets gebeur, staan op en sê iets soos: “Ons is so bly jy het gedink sy is oulik. Dit was ’n lang en opwindende dag. Sy is baie moeg en wil nou net met die maatjies speel.” Die meeste mense sal gou die boodskap kry.

Nadat alles oor en verby is, is dit belangrik om seker te maak dat jou kleinding ’n kiekie of twee kry van haar ‘groot dag’ as blommemeisie, sodat sy dit altyd sal kan onthou en na kan terugkyk soos wat sy ouer word.

Foto: Bold Wallpaper

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA