Boheemse troues kan pragtig en toweragtig wees. Dit was ook die inspirasie agter vandag se gestileerde sessie. Minette Badenhorst het meer hieroor gaan uitvind.

 
Boheemse dekor is huidiglik een van die mees gewilde tendense. Met vandag se gestileerde sessie deur Bella Fiore, bring hulle boheemse en woestyndekor saam vir die pragtigse trou-inspirasie. Hulle deel die visie en idees agter hierdie fotosessie met ons.

WAT WAS DIE VOORKOMS EN GEVOEL VAN HIERDIE FOTOSESSIE? WATTER ATMOSFEER WOU JULLE VASVANG?
“Die voorkoms wat ek vir die gestileerde sessie wou skep was ʼn romantiese, elegante, maar steeds plat op die aarde voorkoms, wat pragtige sagte rose kombineer met die puntige tekstuur van die kaktusse en vetplante. Bruin Kraft-koeverte wat jou laat dink aan die woestynsand is gebruik saam met die vetplanttema skryfbehoeftes. Roosgoue dekor-items is bygesit om ʼn element van glans by die tafeldekor te voeg. Ander dekorelemente was die roosgoud troukoek met klein vetplantjies as versiering, handgemaakte suikerkoekies, sowel as die sagte handgekiesde en vasgewerkde detail op die trourok en die bruidegom se sandkleurige pak. Die boheemse voorkoms was afgerond met die pragtige juweliersware, om weereens ʼn bietjie glans by te voeg.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN HOEKOM HET JULLE OP DIE KOMBINASIE BESLUIT VIR HIERDIE BOHEEMSE SESSIE?
“Die kleurskema het groenigheid ingesluit, wat wissel van ʼn grys ondertoon tot ʼn diepgroen en sagte skakerings van pienk en sand. Roosgoud is bygevoeg om ʼn bietjie glans en elegansie by te bring.”

HOEKOM HET JULLE OP HIERDIE SPESIFIEKE TEMA BESLUIT EN VIR WATTER TIPE TROUE SAL DIT VANPAS WEES?
“Ek dink die boheemse tema is baie geskik vir jong mense met ʼn sterk gevoel van avontuur, miskien paartjies wat van die buitelug hou en beslis plekke in warm klimate.”

WATTER KLEURE EN TEMAS, WAT TANS GEWILD IS, WAS DEEL VAN JULLE FOTOSESSIE?
“Roosgoud is nogsteeds baie gewild en die kombinasie van groen met skakerings van pienk, het en sal altyd ʼn gunsteling by baie bruide bly ongeag van die tendense. Boheemse troues is ook tans ’n tendens.”

WAS DAAR ENIGE ITEMS WAT SELF GEMAAK IS VIR DIE SESSIE WAT ONS BRUIDE SELF KAN AANDURF?
“Tuisgemaakte koekies vir trou gunsies en vetplante wat in mooi houers geplant kan word en tussen meer elegante dekor gebruik word.”

HOEKOM HET JULLE OP HIERDIE SPESIFIEKE BLOMME EN DEKOR BESLUIT?
“ʼn Sterk kontras in tekstuur (sag teenoor puntig) en styl (aards teenoor glans) werk altyd goed en skep ʼn interessante effek.”

WATTER DANKIEGESKENKIES IS TANS IN DIE MODE EN HOEKOM?
“Tuisgemaakte koekies en vetplante in houers. Pashminas sal altyd ʼn winter-gunsteling wees.”

WATTER RAAD HET JY VIR BRUIDE WAT GAAN TROU?
“Wees getrou aan jouself wanneer jy ʼn troutema en kleurskema kies. Moenie net laat tendense dikteer wat jy kies nie, die dag moet jou persoonlikheid weerspieël.”

Die pragtige kombinasie van boheemse dekor, roosgoud en woestyn elemente skep ʼn asemrowende prentjie. Ons is veral verlief op al die makramie items wat in die sessie gebruik is. Dit is tans baie gewild, en die perfekte dekor items vir al die boheemse bruide. Neem inspirasie van vandag se gestileerde sessie om jou boheemse troudag saam te bring.

DIENSVERSKAFFERS
Venue: De la Mas Venue
Stilering, Blomme en Dekor: Bella Fiore
Skryfbehoeftes: Oh Crop Creative Studio
Troukoek en koekies: Dirty Peach
Fotograaf: Floral Photography and Film Productions
Trourok: Jolache Couture
Hare en grimering: Flawless Professional make-up by Donique
Bruidegom se uitrusting: Smartguy
Bruidegom ringe: VA-Tungsten Rings
Bruid juweliersware: Shani D Jewellery Design
Makramie-dekor: Oh Knots Macrame
Modelle: Lynelle West en Lewellyn le Roux

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA