Dankiegeskenkies hoef nie duur en ingewikkeld te wees nie. Dit kan eenvoudig en stylvol wees. Lees verder om te sien hoe jy hierdie oulike sakkies self kan maak.

Christell du Preez is die eienaar van The Peachy Peony en ook Troukoors se selfdoenkenner. Haar besigheid spesialiseer in doelgemaakte dekor, skryfbehoeftes en ontwerpe. Sy is nou al meer as vier jaar doenig in die troubedryf en is ʼn onuitputbare bron van kreatiwiteit en inspirasie. Vandag wys sy vir ons hoe om oulike dankiegeskenkies te maak met eenvoudige bruinpapiersakkies en saadjies.

WAT JY GAAN NODIG HÊ
• Bruinpapiersakkie, grootte 73mm x 170 mm
• Saadjies van jou keuse
PDF-ontwerp van The Peachy Peony
• Wit karton
• Maskeerband
• Gom / kleefband om mee vas te plak
• Fotostaatmasjien

MAAK JOU DANKIEGESKENKIES SO
1. Fotostateer ons PDF-ontwerp op een van jou kartonne. Waar die ontwerp sit sal vir jou ʼn goeie aanduiding gee van waar jou sakkie moet wees. Kyk met jou sakkie waar jy hom sal moet posisioneer sodat die ontwerp in die middel daarvan sal uitkom.
2. Plak nou jou sakkie vas aan die karton met ʼn stukkie maskeerband. Sit die karton met sakkie in jou afrolmasjien. Ek stel voor dat jy net een op ʼn slag doen, net vir ingeval die masjien dalk te vinnig dupliseer vir jou. Druk nou die ontwerp op jou sakkie. Sodra die sakkie uit die fotostaatmasjien kom, trek die sakkie van die karton af. Laat genoeg tyd vir die ink om droog te word.
3. Vul die sakkie met die saadjies van jou keuse.
4. Plak die sakkie toe met gom of kleefband.

Wenk: Moenie te donker gaan met jou ontwerp nie. Die sakkie absorbeer nie die ink soos wat papier of karton sou doen nie, dus smeer die ink en lyk jou eindproduk nie mooi nie. Hierdie sakkies waarin jou dankiegeskenkies kom, kan ook ingespan word as konfettisakkies.

* Die dankiegeskenkies is deel van ’n gestileerde fotosessie. Gaan loer gerus hoe die ander foto’s lyk en hou die blog dop om nog oulike selfdoenprojekte uit hierdie sessie te sien.

Artikel: Minette Badenhorst
Foto’s: Celeste Cilliers Photography

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA