Die regte dekor-items kan jou troue regtig mooi laat lyk. Mercia Eksteen deel vyf oulike items wat deel moet vorm van elke troue se dekor.

Flambojant, elegant, sjiek, vintage en rustiek is van die temas om te oorweeg wanneer jy jou troue begin beplan. Die dekor-items wat jy kies, skep die atmosfeer en die styl. Troudekor sluit alles in, van ruikers, tafelbedekkings en versierings, tot die dankiegeskenkies en ’n fotomuur.

HIER IS 5 DEKOR-ITEMS WAT BESLIS MOET DEEL WEES VAN JOU GROOT DAG

BLOMME
Blomme is seker een van die belangrikste dekor-items van jou troudag en kan ’n groot impak hê op jou tema. Die nuutste modegier, wat blomme aanbetref, is blomme wat uit die dak uit hang. Dit skep ’n baie intieme atmosfeer. ’n Blommemuur kan gebruik word om mooi foto’s te neem of om lelike mure te versier. Blomme word ook van die middel van die tafel af gedrappeer tot op die vloer! Dis asemrowend mooi. Proteas is ook deesdae ’n gewilde keuse vir troues.

MAAK ’N FOTOMUUR
Breek die ys en maak seker jy kry mooi gastefoto’s vir jou groot dag, deur ’n spesiale fotohoekie of –muur te skep. Hier kan gaste hulleself besig hou, terwyl die bruidspaar foto’s neem. Met ’n glasie sjerrie in die hand, skep dit ’n goeie geleentheid vir die gaste om bietjie te gesels oor die kiekies van die familie. Skep aan die een kant ’n mooi agtergrond vir nuwe foto’s en gebruik die anderkant om ou foto’s van elke gas te deel.

TAFELNOMMERS OF TAFELPLASINGS
Daar is soveel maniere waarop jy jou tafelnommers en tafelplasiengs kan vertoon? Op ’n wynbottel, lanterns of selfs op oulike vlaggies. Vlaggies is ook deesdae van die gewildste dekor-items vir enige geleentheid.

DIE TROUKOEK
Het jy al ooit gedink daaraan om jou troukoek as een van die dekor-items op jou lysie te hê? Die troukoek kan ’n sentrale fokuspunt van die onthaal wees. Jy kan ’n troukoek hê met meer as een vlak en al die vlakke hoef nie koek te wees nie.

KERSE
Laastens het ons gaan kers opsteek by Ninya van That Little Décor Company. Kerse is a mooi manier om jou troue romanties te maak. Dit skep ’n elegante atmosfeer en kan ook die saal laat lekker ruik. Verder is dit ook die ideale manier om koskombinasies te doen, as jy byvoorbeeld ’n kers met ’n vye- of vanieljegeur brand.

WEN, WEN, WEN!
Een gelukkige leser staan ’n kans om ’n pragtige kers van That Little Décor Company te wen!
Om in te skryf:
Like en deel hierdie inskrywing op Facebook;
Like That Little Décor Company se Facebook-blad; en
Gebruik #kersprys as hutsmerk in die kommentaarblokkie.

Om meer te lees oor dekor-items vir jou troue of huis, kry die nuutste uitgawe van TROUKOORS wat nou op die rak is!

Hooffoto: Cloud Front
Kers: That Little Décor Company

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA