Die dekor-items wat jy vir jou groot dag kies, kan ’n groot invloed hê op die eindresultaat en foto’s. Minette Badenhorst gee raad oor wat tans in die mode is en jou troue pragtig sal laat lyk.


Dekor is een van die belangrikste keuses van enige troue en is ʼn besluit wat deeglik deurdink moet word. Die dekor-items moet nie net saam pas nie, maar moet ook mekaar komplementeer. Met die regte dekor-items kan jy verseker jou gaste betower.

TRENDY EETGEREI EN BORDE
Verskillende kleure en patrone eetgerei en borde is hoogmode, en kan jou tafel kleurvol laat lyk. Eetgerei van roosgoud en goud, met swart of selfs wit, kikker jou tafel op en skep ʼn pragtige voorkoms. Dit gee ʼn elegansie en unieke styl aan jou tafeluitleg. Borde hoef ook nie meer wit te wees nie, want met ʼn gekleurde bord of selfs borde met ʼn treffende patroon, kan dit ʼn groot verskil maak. Hulle sê tog it’s all in the detail, en hierdie is verseker ʼn nuwe gunsteling dekorgier waarop ons verlief is. Die kombinasie-opsies is eindeloos, en hierdie dekor-items kan by enige kleurtema inpas.

GEKLEURDE GLASE
Gekleurde glase skep kleur op enige tafel. Dit kan werk vir die minimalistiese bruid en vir ʼn bruid wat nie bang is vir verskillende kleure nie. Van ʼn eenkleur-glas tot ʼn paar verskillende kleure saam, sal dit jou tafel lewe gee. Verf jou spesiale dag deur van hierdie mooi dekor-items te gebruik. Gekleurde glase kan gehuur word by dekor huur besighede of kan self aangekoop word by huis dekorwinkels.

PAPIERBLOMME
Papierblomme is een van die nuwe gewilde tendense. Op Instagram is daar baie bladsye aan dit gewy. Papierblomme is dekor-items wat op soveel verskillende maniere gebruik kan word. Ons gunsteling is die blommemuur. Dit kan gebruik word vir ʼn fotohoekie en selfs as ʼn pragtige agtergrond vir die bruidstafel. Dit kan op verskillende maniere uitgebeeld word en ook in enige kleure gedoen word om by jou troue se kleurskema te pas. Dit kan ook as ʼn fokuspunt gebruik word agter die troukoek of nageregtafel. Papierblomme kan selfs agterop die bruidspaar se stoele vasgemaak word.

HANGDEKOR
Hangdekor is heel moontlik een van die pragtigste dekor-items ooit. Die effek wat hierdie dekor-items skep is net absoluut asemrowend. Veral in die aand is dit onbeskryflik mooi en aanskoulik. Dit skep ʼn romantiese gevoel wat waarborg dat elke paartjie sommer weer van voor af verlief sal raak. Dit kan op soveel verskillende maniere opgestel word om by die res van jou dekor in te pas. Laat dit hang bo-oor al die tafels of net bo die bruidstafel, en selfs bo-oor die dansbaan om ʼn sprokiesagtige prentjie te skep gedurende jul eerste dans.

PRAGTIGE TROUBOOG
Die perfekte oomblik verdien die perfekte agtergrond. Pragtige trouboë skep die perfekte agtergrond vir ʼn nuwe begin saam. Dit is die plek waar die eerste oomblik as man en vrou vasgevang word, en sal ʼn foto verseker wat julle met trots teen julle muur kan laat pronk.
Die sirkelblomboog is ʼn nuwe gunsteling-troutendens vir seremonie dekor. Daar is soveel opsies vir ʼn trouboog, van die meer tradisionele tot ʼn teepee vorm vir die Boheemse bruid. Daar is ʼn trouboog vir elke bruid se persoonlikheid.

Enige van hierdie vyf moderne dekor-items sal ʼn treffer wees op jou troudag. Dit gee opsies vir alle soort bruide, van minimalisties tot jou meer waaghalsige bruid. Jou dekor is soos ʼn melodie vir jou gaste se oë, en elke bruid wil hê dat haar gaste moet sing. Sommer jare later sal vriende en familie jou net terloops laat weet, “Julle troue was darem so mooi”. Onvergeetlik, daardie dekor-deuntjie wat jy in hulle koppe laat vassteek het.

Fotos: Chic Vintage Brides, Burnette’s Boards, South Bound Bride, Pinterest, Instagram, Two Birds Celebration Planning

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA