die grootste uitdagings in die huwelik
Die huwelik is nie altyd maanskyn en rose nie. Uitvlucht se Clyde Berning gesels oor die grootste uitdagings en hoe julle dit moet hanteer.

Clyde Berning is eersdaags te sien in die splinternuwe Afrikaanse fliek Uitvlucht wat deur Regardt van den Bergh en Clara Joubert geskryf en vervaardig is. Lika Berning, Clyde se vrou, is self ook ’n vervaardiger van die film en dit beloof om ’n storie te wees met baie hart en siel. Ons het bietjie meer gaan uitvind oor Clyde se rol, asook hoe hy dink die uitdagings in die huwelik aangepak moet word.

VERTEL ONS ’N BIETJIE MEER OOR DIE KARAKTER WAT JY IN UITVLUCHT SPEEL?
“Hy is ’n man wat gevul is met baie woede, teleurstelling, en verwyt omdat sy huwelik besig is om uitmekaar te val. Op ’n manier is hy verlore en dit neem ’n ingrypende ervaring om sy lewe terug te kry op koers.”

HOE VERGELYK JULLE MET MEKAAR?
“Ons verskil baie, want ek is op ’n plek waar my lewe op koers en ek gelukkig is met my familie en lewe. Ek moes na ’n donker plek toe gaan om my karakter te vind, so my lewe is regtig op die oomblik gevul met lig.”

HOE WAS DIT VIR JOU OM TEENOOR JOU EIE VROU IN DIE FLIEK TE SPEEL?
“Ek dink dit maak dit makliker om teenoor iemand te speel as jy hulle goed ken. Lika is ’n fantastiese aktrise en het dit meer pret en opwindend gemaak.”

HOEKOM MOET KYKERS DIE FLIEK GAAN KYK?
“Dit gaan oor liefde in die suiwerste vorm. Die tipe liefde wat jou uit die duisternis kan trek en jou vlerke kan gee om te vlieg. Dit klink miskien soos ’n cliché, maar dis waar en almal kan hiermee vergelyk. Dis universeel.”

GETROUDWEES IS NIE ALTYD MAKLIK NIE EN DAAR IS GEWOONLIK MAAR ’N PAAR UITDAGINGS… WAT SOU JY SÊ IS DIE 5 GROOTSTE UITDAGINGS EN WAT IS JOU RAAD OOR HOE OM ELKEEN TE HANTEER?
“Tyd – Getroudwees en ’n gesin vereis goeie tydsbestuur omdat jy ’n gesonde balans moet handhaaf tussen werk, jou verhouding en familietyd. Laasgenoemde is baie belangrik.

Kommunikasie – Hou altyd kommunikasielyne oop en moenie gaan slaap sonder om argumente oop te los nie (slim raad van Oupa Berning).

Geduld – Dit is baie belangrik om altyd te probeer om ’n situasie vanuit jou maat se perspektief te sien en te benader.

Onvoorwaardelike liefde – Ware liefde het nie voorwaardes nie. Voorwaardes lei net tot oordeel en verwyte.

Vertroue – Dis die belangrikste, ’n verhouding kan nie groei en oorleef daarsonder nie.”

WAT DINK JY IS DIE GROOTSTE GEHEIM VIR ’N GELUKKIGE HUWELIK?
“Vertroue, dis noodsaaklik.”

WAT IS DIE BELANGRIKSTE LES WAT DIE LEWE JOU AL GELEER HET OOR LIEFDE?
“Om eerlik te wees onder alle omstandighede. Dit is die enigste manier om vryheid in liefde te vind.”

WATTER RAAD SOU JY VIR ’N ENKELLOPENDE OU GEE OM ’N MEISIE SE HART TE WEN?
“Wees jouself, maak nie saak wat nie. Behandel haar soos die prinses wat sy is; met respek, grasie, integriteit, en natuurlik opwinding en spontaniteit!”

Uitvlucht begin op 13 Mei 2016 regoor die land wys. Moet dit nie mis nie! Hier is die lokprent.

Ons kuier ook vanaand by die premiere van Uitvlucht by Cedar Square. Hou Facebook dop vir foto’s.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA