Egskeiding is ongelukkig ’n nare realiteit. Nie alle huwelike hou vir altyd nie en as joune aan ’n draadjie hang, is hier ’n paar dinge wat jy moet weet.

Fynskrif is ’n splinternuwe regsdrama wat op Dinsdae op kykNET (kanaal 144) te sien is en spog met ’n puik rolverdeling, wat name soos Kim Cloete, Neels van Jaarsveld, Edwin van der Walt en Crystal-Donna Roberts insluit.

Advokaat Deon Pool, een van die kenners wat raad gegee het agter die skerms, verklap wat jy moet weet oor egskeiding wanneer jou huweliksbootjie op gevaarlike water dobber.

“Die belangrikste ding wat mense moet besef, is dat die huwelik ’n kontrak is. Egskeiding is miskien nie juis iets waaraan jy dink wanneer julle verlief is en saam ’n toekoms beplan nie. Maar dit is ’n realiteit wat met enigiemand kan gebeur. So dis beter om voorbereid te wees.

Egskeiding kan ’n gemene mynveld word en as daar kinders is, is dit nog erger en is hulle die partye wat die meeste ly. Omdat paartjies nie aandag gee aan die kontraktuele aspekte van trou wanneer hulle beplan nie, het dit dikwels nagevolge wanneer dinge skeefloop en tot egskeiding kom. Vroue wat nie werk nie, omdat hulle kinders grootmaak is gewoonlik diegene wat aan die korste end trek wanneer daar nie vooraf ooreengekom word of voorsiening gemaak word nie.

Wanneer ’n huwelik op ’n egskeiding uitloop, is daar ’n paar dinge wat kan gebeur – afhangende van julle voorhuwelikse ooreenkoms:

*As die paartjie binne gemeenskap van goedere getroud is, word die boedel bereken en in die helfte gedeel tussen die twee partye. Enige skuld deur die ander party gaan in ag geneem word en het ’n invloed op die finale bedrag. Selfs afsonderlike pensioenfondse word hierby ingesluit.
Ingevolge artikel 9 van die MPA, kan een party aansoek doen dat die ander party sekere regte ontbeur as hulle verantwoordelik was vir die verbrokkeling van die huwelik.

*Wanneer ’n egskeiding buite gemeenskap van goedere plaasvind, kan dit met of sonder aanwas wees. Met eersgenoemde (met aanwas) het albei partye hulle eie boedels, maar aanwas moet in ag geneem word, soos wat ooreengekom is toe hulle getrou het. As die paartjie sonder aanwas buite gemeenskap getroud is, stap elkeen met sy eie boedel uit die huwelik uit soos wat dit is.

Kinders is egter ’n aparte kwessie wanneer dit by egskeiding kom. Dit het niks met voorhuwelikse kontrakte te doen nie. Dit is kinders se reg om onderhou te word en die tipe leefstyl te ontvang waaraan die ouers hulle gewoond gemaak het. As partye nie oor onderhoud, ensovoorts saamstem nie, kan dit op ’n duur hofgeveg uitloop.

Liefde moenie die enigste oorweging wees wanneer julle op trou staan nie. Maak voorsiening vir enige moontlikheid wat die toekoms mag inhou, veral egskeiding, en trou met ’n kontrak om julle self te beskerm.”

Onthou om vanaand om 20:00 in te skakel vir die volgende episode van Fynskrif. Dalk leer jy meer oor egskeiding of ander kwessies waarmee jy worstel. Hierdie reeks is vermaak uit die boonste rakke!

Foto: Freepik en Uit die Reeks

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA