Etikette mag miskien eenvoudig klink, maar dit kan jou trougaste baie welkom en spesiaal laat voel. Laai hier gratis ontwerpe vir dankie-etikette af.

Jean-Marié Steenberg Graphic Design spesialiseer in die ontwerp en maak van uitnodigings en skryfbehoeftes al vir die laaste agt jaar. Sy is in Potchefstroom, maar ontwerp gereeld vir bruide regoor die land en soms selfs buurlande. Sy is ʼn sucker vir die romanse, so dis vir haar ʼn groot voorreg om elke bruidspaar se storie te leer ken en dan te verseker dat dit weerspieël word in haar werk, veral die troukoerantjies en troutydskrifte. Wat haar werk uniek maak, is haar aandag wat sy skenk aan detail. Die klein bietjie detail, soos doelgemaakte etikette, maak iets tydloos, uniek en spesiaal.

Vir hierdie projek het sy besluit om te wys hoe oulik mens ʼn doodgewone Steri Stumpie-melkie kan opdollie vir die geleentheid. Hierdie “oorjassie” se styl pas by die res van die skryfbehoeftes en dis bietjie meer formeel as net ʼn plakker. As jy nie ʼn melkie wil gebruik nie, kan jy ook die program van julle dag op die etikette druk en dit oor waterbottels sit en tydens die seremonie uitdeel.

ETIKETTE
WAT JY NODIG HET:
• Mooi karton- ek het linnekarton gebruik
• Liniaal
• Skêr
• Handwerkmessie

HOE JY DIE ETIKETTE MAAK:
1. Jou ontwerp se grootte: 70 mm wyd en 18 mm hoog.
2. Begin jou bottelnek se sirkel so 15mm van bo.
3. Die sirkel se omtrek vir die steri stumpie bottel is 37mm.
4. Laat weer 15mm onder die sirkel voordat jy met jou ontwerp begin.
5. As jy klaar is met jou ontwerp en dit klaar gedruk het, dan sny jy die etikette net netjies uit. (Wenk: Sny die bottelnek se sirkel versigtig uit met ’n handwerkmessie.)
6. Rond die botteltjie af met ʼn oulike papierstrooitjie en ʼn mooi toutjie of lint in julle kleruskema.

Ek stel hierdie ontwerp beskikbaar om afgelaai te word in blou, groen en pienk. As hierdie etikette by jou tema pas, kan jy die ontwerp net so aflaai, druk en sny. Voila!

Laai die etikette se ontwerpe af:

Klik hier om die pienk etiket af te laai.
Klik hier om die blou etiket af te laai.
Klik hier om die groen etiket af te laai.

* Hierdie is deel van ’n gestileerde sessie. Kyk Dinsdag om die res van die foto’s te sien!

Foto’s: Celeste Cilliers Photography
Artikel: Minette Badenhorst

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA