Familiedrama is iets waaroor elke bruidspaar nagmerries het voor hulle troue. Hanteer die situasie so wanneer daar botsende persoonlikhede op jou gastelys is.

Elke familie het sy probleme, maar dit is nie nodig dat dit vir die bruid en bruidegom spanning moet veroorsaak op die mooiste dag van hulle lewens nie. Hier is raad om seker te maak dat botsende familielede nie julle troudag in ’n familiedrama laat ontaard nie.

WEES ’N VERENIGDE FRONT
Wanneer julle met familiedrama gekonfronteer word, maak seker dat jy en jou aanstaande as ’n span saamwerk en die situasie saam hanteer. Moenie toelaat dat ander mense se probleme tussen julle kom nie. Kommunikeer met mekaar en maak seker dat julle op dieselfde bladsy is, dieselfde boodskap uitdra en dieselfde reëls neerlê vir die botsende partye.

PRAAT MET DIE BETROKKE PARTYE
Kommunikasie is regtig ’n belangrike manier om onnodige familiedrama te vermy. In plaas daarvan om jou dood te bekommer oor moontlike konflik, moet julle eerder met die partye gaan gesels en julle vrese met hulle deel. Maak seker dat almal weet dat julle omgee vir hulle en net wil hê dat almal gemaklik en gelukkig sal wees op julle troudag. Probeer toegewings maak en reëlings tref (soos sitplekaanwysings) waarmee almal tevrede is. As daar iemand is met gedrag waaroor julle skaam voel, vra hulle op ’n mooi en subtiele manier om die gedrag vir een dag opsy te skuif.

BENADER DIE SAAK PRAKTIES
Slim tafelplasings is ’n goeie manier om familiedrama te voorkom. Familie wat vassit kan by verskillende tafels, aan teenoorgestelde kante van die onthaalsaal, geplaas word saam met mense van wie hulle hou. Dit is in julle hande om geleenthede vir konflik te beperk.

WEES AANPASBAAR
Tradisie is nie altyd noodsaaklik nie. As jy nie ’n goeie verhouding met jou pa het nie, hoef hy jou nie weg te gee nie. Julle name kan alleen op julle uitnodigings verskyn as daar geskeide ouerpare is en die bruidstafel kan ook net vir twee wees. Doen wat julle kan om familiedrama te vermy.

MOENIE IETS SÊ WAT JY GAAN BEROU NIE
Wanneer daar konflik is tussen jou en ’n familielid, probeer om die saak diplomaties te hanteer om die vrede te bewaar. Dit is nie die tyd of plek om te stry nie en jy gaan net spyt wees oor dinge wat in die hitte van die oomblik gesê word.

SNY JOU GASTELYS
As daar mense is wat regtig nie wil saamwerk om julle dag konflikvry te hou nie, oorweeg dit om hulle dan nie te nooi nie. Familiedrama veroorsaak altyd onaangenaamheid en dit is julle reg om dit te probeer vermy op julle spesiale dag. As mense vir julle omgee, sal hulle verstaan of dadelik vooraf instem om hulself te gedra.

MOET DIT NIE IGNOREER NIE
As jou sesde sintuig jou waarsku dat familiedrama aan die kom is op jou groot dag, moet dit nie ignoreer nie. Voorsorg is beter as nasorg…

Onthou waaroor julle troudag regtig gaan en moenie skuldig voel oor julle besluite nie.
Dis julle dag en julle volste reg om familiedrama hok te slaan voordat julle met die paadjie af stap.

Foto: The Street

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA