’n Geskenk, buiten natuurlik vir jou liefde, kan baie spesiaal wees op julle mooiste dag. Minette Badenhorst deel oulike idees hiervoor.

Wanneer dit by troues kom, vergeet ’n mens soms dat die bruidegom ook so bietjie romanse wil hê. ʼn Oulike geskenk, wat jy op die oggend van die troue vir jou bruidegom stuur, kan hom baie geliefd en spesiaal laat voel. Ons het ’n paar idees vir hierdie tipe geskenk.

PERSOONLIKE ITEMS
Laat graveer sy voorletters of julle troudatum op mansjetknope. Dit is ’n geskenk wat hy altyd kan hou en wat hom aan julle troudag sal herinner wanneer hy dit weer dra. Graveer ook ʼn dasknip met ʼn liefdevolle sê-ding wat hy op die dag kan dra. Elke bruid kan kreatief wees met dit wat julle laat graveer, maak dit iets wat spesiaal en persoonlik is tot julle verhouding.

HORLOSIE
’n Horlosie met ʼn oulike boodskappie op, is ʼn gunsteling. Sit ʼn boodskappie by soos: ‘Moenie laat wees nie’ of ‘Sien jou op tyd by die kansel’. As jou toekomstige man reeds van die boonste opsies het vir die troudag, is ʼn oulike idee dalk ’n geskenk vir die wittebrood. Dalk ʼn paar ontwerperssonbrille of ʼn skeersakkie met reisgrootte produkte.

BOUDOIR-FOTOSESSIE
Boudoir-fotosessies is deesdae baie gewild en perfek as jy vir iets meer sensueel wil gaan. Laat neem pragtige en elegante foto’s voor die troue en stel dit saam in ʼn foto-album wat hy dan die oggend van die troue kan oopmaak. Hy sal beïndruk wees met hierdie private geskenk.

Nog ’n oulike idee, is ʼn boksie wat jy self vir hom opmaak met klomp van sy gunsteling-items in. Dit sal verseker spesiaal wees omdat jy elke item self en noukeuring gekies het. ʼn Paar sokkies met die boodskappie: ‘Vir ingeval jy kouevoete kry’ of ‘Moenie kouevoete kry nie’, op is nog ʼn prettige idee vir ’n geskenk.

Laat jou bruidegom spesiaal voel op julle troudag deur vir hom ʼn bedagsame geskenk te gee. Dit sal hom nog meer opgewonde maak om jou voor die kansel te sien.

Foto’s: Wedding Idea

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA