Gewig is ’n probleem, of jy nou gaan trou of nie. Want geen vrou is ooit tevrede met hoe sy lyk nie. Hier is raad om ontslae te raak van die paar ekstra kilogramme om jou middel.

Die kalf is in die put. Jy gaan trou en moet ontslae raak van daai ekstra gewig om jou middel en boude om in jou droom trourok te pas. Yolande van Deventer gee 10 wenke om makliker gewig te verloor.

Die ja-woord is uit en D-dag kom nader. Jou kop is lig maar jou lyf dalk nie. Moenie paniekbevange die koskas se sleutel weggooi en ʼn veertig dae vas besweer nie. Ons kan help.
Volg díe 10 maklike stappe, en sien resultate in net vyf weke!

VAT VOORRAAD.
ʼn Aanlyn-dagboek soos op MyFitnessPal is nie net gebruikersvriendelik nie, maar sal jou ook help om in ʼn japtrap jou ideale gewig se kilojoules te bepaal. As jy dan elke dag blog oor wat jy eet, sal jy maklik agterkom waar jy moet sny as jy van daai ekstra gewig ontslae wil raak.

VERMY LEË BELOFTES
Alkohol belowe jou, soos ʼn slinkse verkoopsman, die wêreld maar gee jou ʼn poskaart! Dit maak jou honger en is belaai met kilojoules. Sny jou inname so veel as moontlik, of kies die light opsies om gewig te verloor.

OEFEN SAAM
Twee koppe is beter as een. Dis baie waar as dit kom by oefen en dieet. Bel vandag nog daai vriendin of jou bruidsmeisies en sweet saam. Dis goed vir jou siel ook, en boonop gesonde groepsdruk.

SKUIF JOU FOKUS
Dit klink snaaks, maar skuif jou fokus van maerword na fiksword. Raak ʼn nuwe fisiese aktiwiteit, soos muurbal, baas of word deel van jou plaaslike Parkrun. Nie net sal dit jou horisonne verbreed nie, maar die gewig sal vanself afval as ʼn heerlike nagevolg! Fiks en fiets is soveel meer aantreklik as moeg en maer.

GENIET JOU KOS
Dis reg, maak kos jou vriend en nie jou vyand nie. Mindfulness is die nuwe gonswoord. Maak dit deel van jou eetgewoontes. Kou jou kos stadig en ervaar dit met al jou sintuie. Kies gesonde opsies en moenie tussen-in peusel nie. Jy sal vanself minder eet, en gewig begin verloor.

DIE ZZZZZ-FAKTOR
Skoonheidsslaap is nie ’n mite nie. Hope studies het al bewys dat te min slaap jou metabolisme stadiger maak. As jy moeg is, gryp jy makliker na daai onnodige soetgoed om jou energievlakke te probeer opbou. Maak slaaptyd ʼn luukse ontspanningstyd. Jy doen jou gewig en jou vel ʼn groot guns!

GAAN GROEN
ʼn Bord vol vars groen groente en slaai lyk al klaar maer en mooi. Dit is tjokvol B-vitamiene, wat alles van stres tot moegheid verlig, en het hope volmaak vesel en min kilojoules.

DRINK NATUURLIK
Maak jou 2 liter water ʼn dag meer opwindend, deur ’n gedeelte daarvan met verfrissende kruietee te vervang. Fenneltee is die maermaak-keuse hier en rooibos is ook ʼn heerlike staatmaker.

DIE KONING, DIE PRINS EN DIE BEDELAAR
Eet soos ʼn koning met ontbyt, ʼn prins tydens middagete en ’n arm man in die aand. Daai vol magie voor slaaptyd is ’n groot sondebok as dit kom by rolletjies!

VUL DIT AAN
ʼn Goeie vitamienaanvulling soos Aminoliq bevat al die aminosure en vitamiene wat jy nodig het vir ʼn gesonde metabolisme. Drink jou energieskoot daagliks en sien sommer baie gou die verskil aan jou gewig.

Moenie vergeet dat omkopery in hierdie geval heel aanvaarbaar is nie, beloon jouself gerus met nie-eetbare bederfies (sexy onderklere of spa-behandelings) vir elke keer wat die skaal ʼn verskil in jou gewig wys. Haal nou diep asem en sien daai nuwe lyf in jou geestesoog. Klein veranderinge kan ʼn reuse verskil maak!

Foto: Wedding High

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA