Griekse kleurskemas en –elemente is baie gewild en perfek vir sometroues. An-Sophie Jonker gesels met Sophia’s oor die inspirasie agter hierdie pragtige fotosessie, wat eksklusief vir Troukoors gedoen is.


ʼn Griekse gestileerde fotosessie deur uiters bekwame diensverskaffers is die bewys dat bruidspare net hier in Suid-Afrika ʼn bestemming-bruiloffees kan hê! Snowflake Venue, in Potchefstroom, is vir hierdie doeleindes omtower in ʼn Mediterreense lushof!

WAT WAS DIE GEVOEL EN VOORKOMS VAN HIERDIE FOTOSESSIE?
“Tydens hierdie fotosessie het ons probeer om ʼn kleurvolle Griekse gevoel te skep in ʼn industriële ruimte. Snowflake is nou wel in Potchefstroom geleë, maar ons wou graag ʼn tikkie van die Middellandse See Noord-Wes toe bring.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA VAN DIE GRIEKSE FOTOSESSIE?
“Ek het verlief geraak op ʼn pragtige stuk materiaal wat ek raakgeloop het. Dit het my laat dink aan die see, son, rotse en Santorini. Ek het besluit om hierdie materiaal as tafeldoek te gebruik. Alhoewel die blomme baie kleurvol is, was blou, pienk en terracotta die hoofkleure. Kyk veral na die pragtige skryfbehoeftes deur Jean-Marie Steenberg Graphic Design, daardie blou trek net jou oog.”

WAAROM HET JULLE JUIS OP HIERDIE TEMA VIR DIE FOTOSESSIE BESLUIT EN VIR WATTER TIPE TROUE IS DIT GEPAS?
“Sogenaamde bestemmingtroues raak al hoe meer gewild. Paartjies reis na nasionale, of internasionale, bestemmings waar hulle hul liefde kan seël met ʼn intieme seremonie vir twee of van dit ʼn langer feesviering (twee tot drie dae) maak saam met familie en vriende. Hierdie gestileerde fotosessie laat jou toe om ʼn tikkie van Griekeland na Suid-Afrika toe te bring. Jolandé van Jolaché Couture se vloeiende skepping sal jou soos ʼn Griekse godin laat lyk en voel. Die goue varing-haarkammetjie herinner jou aan die lourierkranse wat gedra is. Twisty Lemon Catering se Baklava (tradisionele Griekse nagereg) sal jou gaste stroopsoet maak vir die res van die aand.”

WATTER KLEURE IS HUIDIGLIK HOOGMODE WAT IN DIE FOTOSESSIE TE SIEN IS?
“Terracotta, as kleur, is tans hoogmode en word gekombineer met allerhande spesery of woestynkleure soos mosterd en skakerings van bruin. Hierdie kleurskema sal perfek werk vir ʼn bruid wat graag terracotta wil gebruik saam met helder kleure.”

HOE HET JULLE OP DIE SPESIFIEKE DEKOR BESLUIT?
“Soos reeds genoem, was die tafeldoek die middelpunt waaruit elke ander element gevloei het. Vir die blomme het ek besluit op ʼn pragtige mengelmoes van kleure, teksture en vorms. Hier en daar het ons ook takkies Bougainvillea gebruik vir die Griekse gevoel. A & E Wedding and Function Décor het stylvolle breekware, eetgerei en glasware verskaf. Hulle het ook ʼn verskeidenheid van lanterns gebruik, wat natuurlik ʼn moet-hê is vir dié prentjie.”

WATTER TIPE DANKIEGESKENKE IS OP DIE OOMBLIK IN DIE KOLLIG?
“Louvelia’s het pragtige seshoek versierde koekies verskaf as ons dankiegeskenkies. Die koekies is versier met verskillende elemente, wat pragtige by die Griekse tema en Snowflake (die gebou) se industriële gevoel ingeskakel het. ʼn Lekkerny is mos altyd ʼn treffer. Celeste van Sweetly Cakes het pragtige detail op die troukoek gesit in die vorm van klein “teëltjies” en dit afgerond met ʼn hartvormige blaartjie bo-op die koek. ʼn Herhaling van die goue varing-haarkammetjie.”

Hierdie Griekse fotosessie kan enige bruidspaar se voete laat jeuk om ʼn bestemmingstroue te hê. Die goeie nuus is dat hulle nêrens heen hoef te reis nie! Met hierdie bekwame diensverskaffers en hulle unieke idees, kan jy in Suid-Afrika jou droomtroue hê!

DIENSVERSKAFFERS
Plek: Snowflake, Potchefstroom
Koördineerder en blomme: Sophia’s
Spyseniering: Twisty Lemon Catering
Dekor: A & E Wedding and Function Décor
Skryfbehoeftes: Jean-Marie Steenberg Graphic Design
Troukoek: Sweetly Cakes
Fotograaf: Fiona Photography
Trourok: Jolaché Couture
Hare: Kechanne Erasmus, Techno Wave Hair Artistry
Grimering: Stephan Venter Makeup Artistry
Kerse: Milan’s Handmade Candles
Versierde koekies: Louvelia’s
Model: Jordan Durand

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA