Heerlike soetgoed1
’n Tafel met ’n verskeidenheid soetgoed, by jou troue, sal gaste nie net baie welkom laat voel nie, maar ook die kakebene besig en die hongerkolle weg hou.

Jou troue is om die draai en jy is besig om alles te finaliseer en sou graag ’n tafel met peuselhappies wou hê vir gaste om aan te smul na die seremonie. Maar jou begroting laat dit net nie meer toe nie. Moenie dat dit vir jou ’n kopseer wees nie, want jy en jou bruidsmeisies… of dalk jou ma en skoonma, kan sommer maklik inspring en self ’n paar heerlike lekkernye optower waaroor almal sal mal wees.

Hierdie pragtige soetgoed kom uit die boek, KONDENSMELK: Almal se gunsteling deur Cleta Joubert uit en is maar net ’n paar van die liplekker resepte wat tussen die blaaie wegkruip.

Die boek bevat resepte wat kondensmelk gebruik vir alles van gebakte kaaskoek tot yskasterte, heerlike grootkoeke, kleintertjies, beskuit, muffins, kleinkoekies, truffels, dekadente bruintjies en selfs brood. Hierdie items sal almal baie goed werk vir ’n lekkernytafel en sommiges selfs vir tuisgemaakte dankie-geskenkies.

’n Volle hoofstuk word aan roomys afgestaan met wonderlike resepte vir sjokolade fudge-roomys, Italiaanse soentjies en pistasieneut-en-nougatroomys, om net ’n paar te noem. Dit sal weer goed werk om jou nageregtafel iets besonders te maak.

Die pragtige foto’s maak die boek baie spesiaal en die een resep lyk lekkerder as die ander.

OOR DIE SKRYWER
Cleta is eintlik ’n opgeleide modeontwerper. Sy gebruik haar kunssinnigheid ook in die kombuis met die skep van heerlike geregte. Sy het reeds as agtjarige saam met Ma in die kombuis begin werskaf. Dit het haar vier jaar geneem om hierdie boek saam te stel en elke resep is weer en weer getoets tot perfeksie.

Bederf jouself met hierdie pragtige boek van Human en Rousseau. Dit kos R225 en is beskikbaar by jou naaste boekwinkel of op aanlyn by die uitgewer.

Hier is een gratis resep uit die boek:

Italiaanse Soentjies met pepermentroomys
Genoeg vir 24 Italiaanse Soentjies

Bestanddele
1 blikkie (385g) kondensmelk
150g Peppermint Crisp®sjokolade, gerasper
5ml (1t) pepermentgeursel
3 druppels groen voedselkleursel
375ml (1½k) vars room, geklop
300g melk- of donkersjokolade
Sierlike ysbakkies, of diep genoeg kolwyntjie- of koekiepanne

Metode

  1. Giet die kondensmelk in ’n groot bak en meng die gerasperde sjokolade daarby in.
  2. Voeg die pepermentgeursel en voedselkleursel by en meng goed. Vou versigtig die geklopte room in. Giet die mengsel in ’n vriesvaste houer met ’n deksel wat dig sluit en vries vir 4 tot 5 uur tot dit halfgestol maar nog sag is. As dit reeds te hard gestol is, laat dit eers ontvries tot halfsag en werk dan verder.
  3. Smelt die melk- of donkersjokolade in ’n dubbelkoker, terwyl jy aanhoudend roer tot dit heeltemal gesmelt is. Gebruik ’n deegkwassie en smeer die binnekant van elke holte in ’n ysbakkie met ’n dik laag van die gesmelte sjokolade. Verkil tot gestol en herhaal nog twee maal. Wanneer die sjokolade heeltemal gestol is, kan jy ’n skeppie of meer van die halfsagte roomys in elke sjokoladeholte plaas tot die holte net-net vol is. Vries tot gestol. Bedek dan die bevrore roomys met nog ’n bietjie gesmelte sjokolade om die vulsel binne die sjokoladelaag te se.l. Plaas in die vrieskas tot deeglik bevrore.
  4. Tik die ysbakkie liggies teen ’n harde werkoppervlak om die Italian Kisses in die holtes los te maak en haal uit. Hou dit in ’n lugdigte houer in die vrieskas of sit dadelik voor.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA