Pieter Marcato en sy vrou, Karin, het by een van sy vertonings ontmoet. Lees verder hoe hy liefde gevind het en geweet het dat sy sy trouvrou is.

Pieter Marcato is ’n gevestigde Suid-Afrikaanse sanger, musikant, liedjieskrywer, klankingenieur en musiekvervaardiger. Hy is al sedert 2008 in die musiekbedryf doenig en is ook die stigterslid van Legato Records, wat saam met verskeie bekende kunstenaars werk en hom kans gee om sy liefde vir musiek uit te leef.

Buiten vir sy solo-loopbaan wat in 2019 afgeskop het, is dié Pretorianer ook lid van twee suksesvolle musiekgroepe, Marcato en EON, saam met wie hy al die land aan die brand gesing het. Sy tweede enkelsnit en musiekvideo, Swipe Regs, is pas vrygestel en word reeds deur ’n paar radiostasies gespeel.

Om ware liefde aanlyn te vind, is deesdae glad nie ’n vreemde verskynsel nie en talle paartjies het al suksesvolle verhoudings met die druk van ’n knoppie gebou.

Pieter Marcato sing in Swipe Regs juis van hierdie tipe liefde en hoe dit lewens kan verander. “Een van my beste vriende het onlangs met sy sielsgenoot getrou. Hulle het op ’n afspraaktoepassing (dating app) ontmoet en dit het my laat besef dat mense mekaar op verskillende maniere kan ontdek,” verduidelik die musikant oor die inspirasie agter sy tweede solo-vrystelling. Hierdie liedjie volg in die voetspore van sy debuut-enkelsnit, As Jy Vra, wat in 2019 uitgereik is en steeds oor die radio gehoor kan word.

Alhoewel Pieter en sy vrou, Karin, nie ook aanlyn ontmoet het nie, meen hy dat hy dadelik geweet het dat sy die groot liefde van sy lewe gaan wees.

Ons het meet hieroor gaan uitvind:

HOE HET JY EN DIE LIEFDE VAN JOU LEWE ONTMOET?
“Ek het haar by een van my vertonings ontmoet in November 2014 en ons was dadelik verlief op mekaar.”

HOE HET JULLE VERHOUDING ONTWIKKEL VAN DAARDIE PUNT AF?
“Ons het op ’n afspraak gegaan die week na ons ontmoeting en dit was so lekker dat ons mekaar sommer elke dag vir die res van die week ook gesien het. Na byna twee weke, het ek sommer besluit om haar te vra om my meisie te wees. Haar antwoord was ja. Die liefde het geblom. En die res is, soos hulle sê, geskiedenis!”

WANNEER EN HOE HET JY GEWEET SY IS DIE EEN MET WIE JY JOU LEWE WIL DEEL?
“Ek dink dat ons met ons eerste afspraak reeds geweet het dat dit ware liefde is en nie net ’n fling nie.”

HOE HET JY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Ons was na ’n wildsplaas toe vir die naweek waar ek ’n romantiese skemerkelkie-piekniek gereël het, met ’n pragtige uitsig. Ek het my liefde verklaar en sy het ja gesê.”

HOE HET JY AAN DIE BEGIN VAN JULLE VERHOUDING HAAR PROBEER BEÏNDRUK?
“Ek het haar gereeld bederf met klein geskenkies, maar ek was net myself. Ek dink baie mense probeer te hard om ’n meisie te beïndruk en dit is onrealisties, want jy kan nie altyd dit doen nie. Daarom glo ek om jouself te wees is beter as om iemand te probeer beïndruk.”

WAT IS VOLGENS JOU DIE RESEP VIR ’N GESONDE EN GELUKKIGE VERHOUDING?
“Respek, kommunikasie en liefde.”

Die paartjie se troue het in die 2018-uitgawe van Troukoors verskyn, wat te koop is by bestel@bpwpprebuild.co.za

Hulle het ook intussen ouers geword van ’n pragtige dogtertjie, Amila, wat hulle liefde vir mekaar nog hegter maak.

Swipe Regs is beslis ’n liedjie om vir jou troue te oorweeg! Kry dit nou aanlyn by:
ITUNES
Spotify
Deezer
Google Play

Paartjiefoto: Nadia Snyman Photography.

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA