hoe om geskeide ouers deel te maak van julle troudag
Paartjies met geskeide ouers kan ’n mynveld betree wanneer dit kom by troureëlings tref. As albei ouerpare geskei en weer getroud is, kan dit nog meer ingewikkeld raak. Hettie Coetzee het raad oor hoe jy almal by die troue kan betrek sonder om ’n koue oorlog te begin.

Die fliek, The Big Wedding, gee nogal vir jou ’n goeie prentjie van hoe ’n troue kan verloop wanneer geskeide ouers en ander familie daarby betrek word. Die verskil is dat jy heerlik lag vir die fliek se mannewales, maar dat dit baie stresvol kan wees wanneer dit jou realiteit is.

Die goeie nuus is dat, met goeie beplanning en kommunikasie, al die ouers vereer kan word en deel kan wees van julle groot dag.

KOMMUNIKEER LANK VOOR DIE TYD MET ALMAL
As die verhouding tussen geskeide ouers nie goed is nie, is dit dalk ’n goeie idee om afsonderlik met elke groepie te gesels. Die meeste geskeide ouers wil die beste vir hulle kinders hê en sal saamwerk om hierdie dag spesiaal te maak.

Neem die leiding en moenie toelaat dat negatiewe emosies julle pret bederf nie. Die belangrikse ding is om lank voor die tyd met almal te praat oor al die reëlings… sodat daar nie onaangename verrassings is wat onaangename reaksies kan uitlok nie.

IDEES OM ONGEMAKLIKE SITUASIES TE VERMY
UITNODIGINGS
Ouers en stiefouers se name kan op die uitnodigings verskyn, maar wees versigtig dat dit dan nie oorvol lyk nie – veral as julle albei geskeide ouers het, in daardie geval is dit dalk beter om die politiek heeltemal te vermy en eerder net die bruidspaar se name te gebruik.

WIE GEE DIE BRUID WEG?
As jy ’n goeie verhouding met jou pa het, is dit sy voorreg. As jy deur jou stiefpa grootgemaak is en jy wil hom ook vereer, kan jy dalk aan ’n kreatiewe manier dink om albei in te sluit sonder om iemand se gevoelens seer te maak. Jy kan byvoorbeeld alleen instap, of reël dat die een jou inbring en die ander een jou halfpad ontmoet. Dit is deesdae ook nogal ’n neiging vir moderne paartjies om voor die tyd foto’s te neem en dan sommer, van die begin af, die paadjie aan mekaar se sy aan te durf. Jy kan ook iemand anders, wat vir jou baie beteken, vra om jou in te bring, byvoorbeeld jou ma of jou broer.

TROUFOTO’S
Praat voor die tyd met die fotograaf hieroor en besluit watter foto’s julle geneem wil hê. Praat ook voor die tyd met geskeide ouers en as hulle instem, neem foto’s met die biologiese ouers en aparte foto’s met hulle nuwe eggenotes. Dis onnodig om die vriend/in van geskeide ouers by troufoto’s in te sluit.

SITPLEKREËLINGS BY DIE ONTHAAL
Baie paartjies doen weg met die tradisionele hooftafel en deel ’n tafel met hulle persoonlike vriende. Dis ’n goeie manier om die situasie met geskeide ouers te hanteer sonder om iemand seer te maak.

Die geskeide ouers en hulle nuwe eggenotes of liefdes kan dan aan aparte tafels sit saam met hulle familie en vriende.

Julle kan ook ’n tafel deel met die strooimeisies en strooijonkers. Die seremoniemeester kan deel wees van hierdie groep. Dikwels is die strooijonker in elk geval ook die seremoniemeester.

Die ander alternatief is natuurlik om alleen aan die bruidstafel te sit en sodoende die hooffokus te wees, soos wat dit hoort.

Heildronke
Vermy enige ongemaklikheid deur al die heildronke te laat instel deur die seremoniemeester. ’n Familielid of goeie vriend van die geskeide ouer/s kan ook hierdie rol vervul. Maak net seker dat jy in daardie geval heildronke op albei instel.

Danse
Besluit voor die tyd watter danse daar gaan wees. Die bruidspaar se dans is die belangrikste en kan die enigste dans wees. Julle kan ook al die geskeide paartjies en hulle maats nooi om ná julle op die dansvloer te verskyn.

Deur alles voor die tyd haarfyn te beplan, kan enige taai situasie vermy word. As dit nog steeds te veel drama is, kan julle elope. Maar dan mis julle die pragtige trourok, die troumars en die heerlike troukoek. En die belangrikste van alles – julle mis dit om die gelukkigste dag van julle lewe te deel met die mense wat julle eerste liefgehad het – julle familie.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA