Houtdekor is deesdae ’n gewilde tendens by troues en kan self gemaak word. An-Sophie Lourens het gaan ondersoek instel oor watter elemente oulik kan werk op jou groot dag.

Houtdekor word deesdae gereeld op troues gesien. Dis met goeie rede, dit skep egtheid en eenvoud, terwyl dit nogsteeds elegant en stylvol voorkom. Dit pas gewoonlik ook by enige tema en kleurskema.

Die goeie nuus is jy kan baie van hierdie houtdekor self maak of jou aanstaande betrek, en dit gaan jou nie ʼn arm en ʼn been kos nie. Dalk ken jy ʼn oom wat die hout kan sny of aanmekaar slaan waar dit nodig is. Hierdie artikel gee ʼn paar idees vir selfdoenhoutwerk.

Vir die seremonie…

• Tien A3-grootte houtbordjies met die voorskrifte van Korintiërs 13 daarop geverf. Op elkeen staan die liefde is vriendelik, ander een sê geduldig, ens. Die bordjies kan in die paadjie waar die bruid gaan afstap kansel toe gehang word of afhangende van die hoeveelheid strooimeisies kan elkeen ʼn bordjie indra.
• Houtplankies wat die rigting van die seremonie en onthaal aandui. Jy kan self daarop skryf of verf en dit maak die oulikste houtdekor.

Vir die gasteboek…

• Klein houthartjies waarop die gaste hulle name kan skryf. Dalk een per paartjie en dan gooi die gaste dit in ʼn mooi glas bak. Julle kan dit in julle huis sit as houtdekor en sommer elke dag herinner word aan die spesiale dag en saam met wie julle dit gedeel het.
• ʼn Groot houtbord met julle name groot opgeskryf en ʼn mooi sê-ding waarvan julle hou. Tussenin skryf die gaste hulle name en miskien boodskappies. Julle kan dit in ʼn kuier-area of lapa in julle huis ophang en elke keer ʼn mooi wens vir julle huwelik lees.
• Plat houtstokkies of roomysstokkies waarop gaste ʼn “Date” idee kan skryf, asook hulle name.

Allerlei houtdekor

• Dik boomstompe in verskillende lengtes gesny. Jy kan die plat deel ʼn lagie vernis gee. Plat, dun boomstompe kan lekker werk as plekmatjies of om ʼn blompot op te sit as deel van die dekor. Jy kan ook verskillende lengtes rangskik en die troukoek of kolwyntjies daarop pak. Jy kan ook tafelnommers op verf en dit teen iets laat leuen of die onderkant plat skuur en dit laat staan op die tafels.
• Laat ʼn houtpallet regop staan en skryf die program of spyskaart daarop of sommer net ʼn mooi versie.
• Jy kan houtkratte op hulle sy laat lê en kolwyntjies daarin pak met blomme versier.
• Laat drie houtpallette regop langs mekaar teen die muur agter die bruidspaar se tafel in die onthaal staan, pak nog ʼn ry daarop. Maak net seker dit staan stewig anders mag julle dalk beserings opdoen terwyl iemand ʼn toespraak lewer. Hang liggies tussendeur die gleufies van die pallette, en voila! Julle het die mooiste fokuspunt agter julle die hele onthaal deur!
• Jy kan van afval stroke hout ʼn groot fotoraam maak. Versier dit met blomme of iets wat by julle troue pas. Laat die gaste ʼn foto neem met hulle gesigte in die rame. Dit kan sommer met ʼn gewone kamera geneem word. Dit kan gebruik word vir vermaak as julle gaan foto’s neem.

Maklik, prakties, bekostigbaar en so mooi! Jou houtdekor kan jou troue ekstra spesiaal laat lyk. Dis sommer ook ʼn lekker aktiwiteit wat jy voor die troue saam met vriende en familie kan doen. Wees kreatief en dink sommer ʼn paar van jou eie idees ook uit. Jy kan vir altyd die stukkie hout in jou huis en in jou hart koester.

Foto: Freepik 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA