Huweliksraad word vrylik en ongevraagd uitgedeel, maar kan soms waardevol wees as die bron betroubaar is. Yolande van Deventer verklap wat julle oor trou moet weet.

Dis ʼn maand voor die troue en alles is so te sê in plek. Jy is opgewonde en tog kan jy nie slaap nie. Jy wonder skielik of gaan julle verhoudingsbootjie die huweliksee oorleef en kan niks van die huweliksraad onthou wat jy al soveel keer gehoor het nie.

Dit is waar, trou is nie perdekoop nie en die huwelik is beslis nie altyd maanskyn en rose nie. Maar daar is ʼn paar goedjies wat julle in die navigasietrommel kan pak om die boot op koers te hou. ʼn Verhouding met ʼn sterk fondasie wankel moeilik. Hier is huweliksraad wat julle getroude lewe op die regte pad sal hou.

RESPEK EN VERTROUE
Liefde wat groei uit respek vir mekaar, het diep wortels en vertroue vloei van nature daaruit. Jy sal nie dinge doen wat die verhouding seer maak as jy jou maat respekteer nie, maak nie saak hoe kwaad jy word of hoe seer jy kry nie. Daar is nie plek vir jaloerse besitlikheid in ʼn gesonde huwelik nie, en liefde alleen is nie altyd die antwoord nie. Hierdie brokkie huweliksraad kan baie waardevol wees as jy dit toepas.

RUIMTE VIR GROEI
Net soos mense, groei en verander ʼn verhouding ook. Dit is gesond, nodig en onvermydelik, so julle moet albei ruimte los daarvoor. As hierdie dinamika deel is van jul verhouding gaan julle tot op julle oudag ʼn opwindende en vervulde huwelik hê. Daar sal altyd ietsie wees om oor te gesels en nie een van julle sal voel dat jy vasgedruk en verveeld is nie. Vat nou maar hierdie huweliksraad bank toe – jy en jou maat moet mekaar se grootste fans wees en mekaar aanmoedig om altyd beter hoogtes te bereik.

GEMEENSKAPLIKE WAARDES EN VISIE
Het julle die kwessie van kinders al bespreek? Voel julle dieselfde oor seks? Wat is julle geloofsoortuigings en, indien dit verskil, hoe vind julle die middeweg? Waar gaan die familie inpas? Hierdie is dinge wat die kameel se rug kan breek. As julle die antwoorde op al hierdie vrae het, gaan jul beslis al die huwelik met ʼn teerpad binne. Dit is baie moeiliker om haakplekke rondom hierdie dinge uit te stryk in die huwelik, as wat dit is om dit deur te trap voor julle die knoop deurhaak.

KOMMUNIKASIE
Kommunikasie is seker die belangrikste huweliksraad vir sukses wat daar is. Julle moet praat. Maar dis nie sommer ʼn hierjy praat nie, dis effektief gesels, oor alles. Sonder kommunikasie verloor jy voeling met wat in jou maat se lewe aangaan, en los jy geen probleem op nie. Hierdie is die belangrikste reddingsbaadjie van enige krisis.

TWEE HELES MAAK EEN HUWELIK
Die somme vir ʼn huwelik werk bietjie anders… as jy ʼn halwe mens inkom en verwag dat jou maat al jou gate moet volmaak, wag daar ʼn nare verrassing op jou aan die anderkant van I do. Dit is nie ’n 50/50 vennootskap nie, dis 100% van albei kante af. Stop jou gate voor jy die ring aansit. 1+1=11 in die huwelikspel. Saam moet julle baie meer wees as op julle eie.

Runnaway Bride som alles so mooi op: Daar gaan beslis soms moeilike tye wees en een of albei van ons gaan dalk die pad wil vat, maar jy weet jy het die regte mens, as die risiko om die kans nie te vat nie, groter is as om dit wel te doen.

Jy hoef nie almal se huweliksraad te volg nie, maar besluit wat vir julle belangrik is en pas dit toe.

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA