Huweliksvoornemens kom dalk laaste in jou gedagtes op as jy eers begin dink aan wat jy in die Nuwejaar wil bereik. An-Sophie Jonker motiveer jou om in 2020 aan jou huwelik te werk.

Dit is altyd goed om gesonder te wil leef, maar huweliksvoornemens vir die Nuwejaar moet net so hoog op jou prioriteitslysie verskyn soos al jou ander goeie planne vir die komende jaar. Jy kan jou eie huweliksvoornemens saam met jou maat kies, maar as julle so ’n bietjie sukkel om aan die gang te kom, lees hierdie tien riglyne vir huweliksvoornemens vir die nuwe jaar.

  1. SPANDEER KWALITEIT TYD SAAM

Maak ʼn reël om een keer ʼn week julle fone en tablette weg te bêre, op die stoep of op die bank te gaan sit, ʼn glasie wyn of ʼn koppie koffie saam te drink en mekaar in die oë te kyk en te gesels.

  1. MOENIE KWAAD GAAN SLAAP NIE

Hierdie huweliksvoorneme klink dalk afgesaag vir sommige paartjies. Vir die meeste paartjies is dit egter ʼn moeilike voorneme om by te hou. Dis mos makliker om stilstuipe te kry tot jy aan die slaap raak. Probeer tog maar eerder om jou hart uit te praat voor die dag verby is.

  1. ONDERSTEUN MEKAAR MEER

Dit is so maklik om vasgevang te word in jou eie werk en stres en net jou eie kop bo water te probeer hou dat ʼn mens partykeer vergeet hoe nodig jou maat jou het. Deur ʼn lekker warm bad te tap of kos te maak na ʼn lang dag ondersteun jy nie net jou maat nie, maar jy sal beslis self ʼn bietjie beter voel.

  1. BEGIN WEER BY DIE BEGIN

Doen elke nou en dan iets wat julle altyd gedoen het toe julle net begin uitgaan het of pasgetroud was. Dit sal sommer gou weer daardie jong verliefdheid in julle huwelik terugbring.

  1. KOMMUNIKEER

Die gebrek aan kommunikasie is die wortel van soveel huweliksprobleme. Al is dit nie altyd lekker nie, al is dit nie maklik nie, praat met mekaar oor alles, klein of groot.

  1. MOENIE VINGER WYS NIE

Niemand hou daarvan om verkeerd te wees nie, maar ons is menslik. Ons maak foute en ons praat voor ons dink. Hou op om PMS of jou baas wat jou omgekrap het die skuld te gee. As jy oorreageer het of iets gesê het wat kon gebly het, gaan sê jammer, jy was verkeerd.

  1. WEES SPONTAAN

Moenie elke detail van julle lewens wil beplan nie. Hou party goed opwindend en spontaan, byvoorbeeld om in die oomblik te besluit op ʼn pizza- en fliek-aand, al het jy eintlik al hoender uitgehaal en beplan om wasgoed te was.

  1. PAK ʼN NUWE UITDAGING SAAM AAN

Niks bring ’n mens so naby aan mekaar soos bloed, sweet en trane nie. Skryf in vir die Comrades of begin ʼn nuwe besigheid saam. Doen iets wat julle uit julle gemaksone haal, maar weer nader aan mekaar laat leef.

  1. STEL JOU MAAT SE BEHOEFTES EERSTE

Die wêreld wil ons laat glo dat ek-tyd ons die meeste geluk gaan bring. Probeer ’n bietjie om jou maat se behoeftes eerste te stel en sien hoeveel meer geluk dit jou bring.

  1. BID EN BAD SAAM

Laaste, maar nie die minste nie. Deur goeie en deur slegte tye, op besige en rustige dae, op hartseer en gelukkige dae, bid en bad altyd saam.

Terwyl jy hierdie jaar sit en dink aan wat jou goeie nuwejaarsvoornemens is, roep sommer jou man nader en sit en dink saam aan huweliksvoornemens vir 2020. As jy en jou maat mekaar elke dag koester, omvou en ondersteun kry jy jou nuwejaarsvoornemens dalk sommer moeiteloos reg.

Foto: Freepik

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA