Kinders kan soms ’n kopseer wees wanneer dit by troues kom, omdat baie paartjies verkies om slegs volwassenes op die gastelys te hê en dit ouers ontstel.
An-Sophie Lourens gee raad vir wanneer julle een van daardie paartjies is.

Alles vir jou grootdag is haarfyn beplan in jou kop, jy ontwerp al jou rok vandat jy ses jaar oud is, jy kan al die koek proe en die eerste soen as Mev… Dan díe gil… en die nagmerrie van kinders wat jou troue oorneem.

Jy het al te veel keer ervaar hoe ’n verveelde of ongelukkige kleuter die mooiste kerkdiens ontwrig. Jou stresvlakke is reeds hoog oor almal se giere en geite as dit by die spyskaart kom. Wat nog van die kinders se lekkergoed en deesdae, hulle allergieë! Jy kan nooit ophou kyk hoe dogtertjies met hulle wit rokkies die dansvloer skoonvee tydens die toesprake nie. Dis dan wanneer jy weet, jy wil nie kinders by jou troue hê nie.

Daar is egter niks verkeerd daarmee as jy graag kinders by jou troue wil hê nie. Dit is jou dag en jy mag doen wat jy wil. Dit is waar dat kindertafels, vermaak en spesiale kos vir kinders meer organisering en miskien ekstra stres kan veroorsaak. Dit is beslis ook meer uitgawes, wat die situasie moeilik maak as julle ’n knap begroting het. Indien julle begroting nie ’n probleem is nie, is dit ook waar dat kinders nie die fyn, duurder elemente noodwendig raaksien en waardeer nie.

As dit vir julle belangrik is dat al die gaste lekker saam kuier en jolig is, mag kinders dalk aandag vereis gedurende daardie tyd. Aangesien een van die ouers of albei heeltyd sal moet toesig hou, kan dit dalk hulle aandag van julle feesvieringe aftrek. Hulle gaan dalk ook vroeër moet huistoe gaan en baie van die feesvieringe mis. Daar word ook dikwels in toesprake stories vertel of ’n speletjie gespeel, wat nie noodwendig vir kinders se ore bedoel is nie.

Dus, as jy nie kinders by julle troue wil hê nie, is daar verstaanbare redes daarvoor. Maar dit is makliker gesê as gedaan. Hoe sê jy vir ’n mamma sy kan ongelukkig nie haar dogtertjie se fraaiste rokkie op jou troue vir haar aantrek nie.

Hier is ’n paar wenke om gaste in te lig dat kinders ongelukkig nie die troue kan bywoon nie:
* Maak dit duidelik op die uitnodiging deur ’n vriendelike versoek te stel. Dit kan ook help as jy met die gaste wat kinders het hieroor gesels, sou jy dalk die uitnodiging persoonlik vir hulle gaan aflewer. Vra vir jou bruidsmeisies of vriendinne om hierdie inligting ook oor te dra.
* Hanteer die situasie respekvol en gebruik die regte bewoording. Laat die ouers hartlik welkom voel om die troue by te woon, hulleself te kom geniet en die dag sonder te veel verantwoordelikhede te vier. ’n Verkeerde benadering mag dalk veroorsaak dat geen ouers julle troue bywoon nie.
* As iemand in die gesig gevat voel of opstandig is omdat hulle nie hulle kinders mag bring nie, wees eerlik oor jou redes. Verduidelik vir hulle jou situasie (finansieël, die tipe atmosfeer van die troue, of wat die rede ookal mag wees). Nie almal gaan dadelik verstaan hoekom hulle kinders nie mag saamkom nie, maar onthou, dit is julledag.
* As jy vir een ouer ’n uitsondering maak, gaan almal se kinders daardie dag ’n kwaal hê, sodat hulle kleintjies ook kan saamkom troue toe. As een gas se kinders wel saamkom, gaan al die ander gaste ontsteld wees as hulle kinders by die huis moes bly. Dit is dus beter dat een gas ongelukkig is voor die tyd, as wat al die gaste op die dag van die troue vir julle kwaad is.

Mense se voorkeure, opinies en besluite verskil. Hierdie is jou troudag, waaroor jy waarskynlik al baie gedroom het. Besluit wat jou gaan gelukkig maak op daardie dag. Die situasie mag dalk vir jou voel soos ’n taai tammeletjie, maar as jy dit reg benader sal die gaste nie ontsteld wees nie.

Foto: HuffPost

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA