Die kleurkombinasies wat jy kies kan jou troudag maak of breek as jy nie versigtig is nie. Liza de Jager van Bella Vestito vertel jou hoekom kleur so ’n groot rol speel.
—————————————————————————————————————————————————————–
SPESIALE AANBOD – kliek hier om Die Trouboek en/of Troukoors tydskrif te bestel.
——————————————————————————————————————————————————————
Kleurskema… dit is seker die maklikste besluit wat jy gaan maak wanneer julle trou. Of dit is wat elkeen van ons dink wanneer ons begin beplan, maar jy kan later met ’n hele paar kopsere sit as gevolg van hierdie ‘klein besluit’ wat skeef geloop het omdat jou kleure nie dieselfde is of bymekaar pas nie.
Die eerste ding wat jy moet onthou is dat pers nie net meer pers is nie! Daar is soveel verskillende skakerings van elke kleur dat ’n mens naderhand self nie meer seker is oor die kleur van jou troue nie. As jy byvoorbeeld besluit op turkoois vir jou troue, moet jy baie versigtig wees. Elke verskaffer sien turkoois anders en op elke tipe material lyk die kleur ook nie presies dieselfde nie. Jy kry ’n turkoois wat meer na groen toe trek, en dan een wat meer blou is.
So is daar met al die kleure ’n risiko dat jou blomme, tafeldekor en strooimeisierokke dalk nie dieselfde kleur gaan wees nie. Dit is darem nie so ’n groot ramp nie, solank jy bewus is hiervan. Noudat jy weet, kan jy seker maak dat alles bymekaar pas.
Eerstens is dit baie belangrik om nie elke strooimeisie toe te laat om op verskillende plekke ’n rok van haar keuse te gaan koop of te laat maak nie. Koop eerder by een verskaffer sodat jou gevolg almal by mekaar pas.
Volgende, en die belangrikste om te doen, is om ’n stukkie lap met die presiese kleur wat jy wil hê met jou saam te vat na alle verskaffers toe. Julle kan dan die kleurvoorbeeld teen die verskillende blomme, rokke, dekor en tafeldoeke hou om die kleurskakerings te vergelyk.
Die laaste punt is om seker te maak jy weet wat jou kleur se benaming regtig is. Dit gebeur gereeld dat kliënte vir verskaffers vra vir ’n spesifieke kleur, byvoorbeeld vlootblou, maar eintlik is hulle opsoek na koningsblou.
Om jou hiermee te help kyk ons na ’n paar verskillende kleurskakerings se benamings. Ons het dit in Engels gehou sodat dit relevant is wanneer jy jou inkopies gaan doen… omdat die name dan nie vertaal is en jy die korrekte Engelese benaming nodig het wanneer jy diensverskaffers ontmoet nie.
Gewapen met jou kleurkaarte en lapmonsters, behoort jou beplanning nou geen probleem in te hou wanneer dit by jou troukleure kom nie. Geniet die beplanning.
—————————————————————————————————————————————————————–
SPESIALE AANBOD – kliek hier om Die Trouboek en/of Troukoors tydskrif te bestel.
——————————————————————————————————————————————————————
Hooffoto: Paper and Gel Designs
Foto’s: Snapdragon Parties; Ingrid Sundberg