Die kleurskema en tema speel ’n groot rol wanneer dit by die beplanning van jou mooiste dag kom. Gina van Staden gee raad oor hoe om die beste keuses te maak.

Die laaste eksemplare van Troukoors tydskrif se Spesiale Uitgawe is nou op die rak by Pick ’n Pay, Checkers en sekere Clicks en Spar winkels. Koop dit sommer vandag nog voor dit finaal van die rak af verdwyn, of bestel die tydskrif saam met Die Trouboek direk by ons (teen spesiale afsalg – saam posgeld steeds goedkoper as by die winkels). Kliek hier vir meer info of om te bestel.

————————————————————————————————————————————————————–


Dit is vir sommige bruide makliker as vir ander om ʼn kleurskema en tema te kies. Vir die bruid wat nie seker is hoe om die twee te kombineer nie, gee ons hieronder raad.

HOE OM JOU KLEURSKEMA TE KIES:
Die algemene reël is om een of twee primêre kleure te kies en dan twee of drie aksentkleure by te voeg. Alles moet mekaar komplementeer – om kleure in dieselfde kleurfamilie te kies, is ’n goeie idee.

Dit is belangrik om die seisoen waarin julle beplan om te trou in gedagte te hou. As jy wel ʼn kleurskema wil hê wat nie seisoenaal is nie, hoef jy nie jou hele kleurskema te verander nie. Voeg net ʼn ekstra aksentkleur of twee by of werk ʼn paar teksture in om dit meer seisoensgepas te maak.

Jy moet ook jou venue in gedagte hou wanneer jy jou kleurskema kies. Watter kleur is die vloere, matte, mure, skilderye, ensovoorts? Moet byvoorbeeld nie pastelkleure soos pienk en pers kies wanneer die matte bloedrooi of die mure vlootblou is nie.

DAAR IS ’N KLEURSKEMA VIR ELKE SEISOEN:

SOMER EN LENTE:
Dink aan kleure soos pienk en koraal. Kombineer dit met neutrale kleure soos room en grys, metale soos goud en roosgoud of koeler kleure soos groen of blou.

HERFS:
Kies warmer kleure vir hierdie seisoen. Rooi, oranje, bruin en brons is baie goeie keuses om as kleurskema te gebruik.

WINTER:
Koel kleure soos ysblou, silwer, wit en pastelkleure kan ʼn dromerige winter wonderland skep.

HOE OM JOU TEMA TE KIES
Hou weereens die venue in gedagte voor jy op ʼn tema besluit. Die plek waar julle trou bepaal baiemaal die tema – soos wanneer julle kies om in ʼn woud te trou, is die tema vanselfsprekend. Dan gaan jy ook aan faktore soos jou trourok, kleurskema en begroting moet dink.

TEMAS VIR VERSKILLENDE SEISOENE

SOMER EN LENTE:
Hierdie is die perfekte tyd om die romantiek van bloeisels te omhels, see, Victoriaanse tuine of ʼn plaastema.

HERFS:
Pampoene, droeë takke, blare en ʼn rustieke antieke-tema is baie geskik vir hierdie seisoen. Die herfskleure is ook sterk genoeg om self as ʼn tema te kan staan.

WINTER:
As ʼn mens aan die winter dink, dink jy onwillekeurig aan sneeu, ys en kristal. Party mense is so lief vir Kersfees, dat hulle selfs hulle winter troutema daarvolgens kies. Ouwêreldse Hollywood of Great Gatsby-tema’s is ook wonderlik vir die winter.

Die kleurskema en tema van ʼn troue is baie belangrike elemente wat by al die aspekte van die troue moet pas. Kies dit slim en jy sal vir baie jare nog tevrede terugkyk na julle troufoto’s.

Hooffoto’s: Megan Robinson, Inspired By This

Foto’s: Polkadot Brides, Ruffled Media, Burnett’s Boards, Wedding Party App, 100 Layer Cake, Alegra Events

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA