Konfetti simboliseer gaste se seën van geluk en vrugbaarheid vir julle met julle troue en dit hoef nie noodwendig aan jou hare vas te sit nie… kies dus iets wat dit vir jou die beste voorstel.

In Italiaans beteken confetti ‘klein lekkertjies’, en is dit gebruik om by parades en feeste soos troues te gooi. Mettertyd het die era van blomblare, rys en papier aangebreek (wat steeds gewild is veral omdat blomblare en rys eko-vriendelik is), maar soos wat bruide meer kreatiewe vryheid begin kies het, het konfetti ook nuwe baadjies begin aantrek. Kyk net hierdie oulike idees wat bietjie anders as die gewone is:

SPRINGMIELIES
Popfetti is ‘n baie gewilde opsie op die oomblik en is boonop ekonomies ook. (Dit maak sommer daardie hol kolletjie op die maag van die gaste na die seremonie ook vol!) Jy kan jou popfetti in mooi papierhoringkies, boksies of sommer net so in mandjies pak. Die keuses is legio. Dit haal ook heel maklik uit jou hare, sodat jy nie soos ‘n ontploffing in ‘n wolsak op jou foto’s lyk nie.

BORRELS
Borrels bly ‘n pragtige opsie. Dit is skoon, speels en maklik. Jou gaste kan weer soos kinders voel as hulle julle vrolik seën met die borrels wat hulle blaas. Om die effek meer treffend te maak vir foto’s, is dit ‘n goeie idee om ‘n borrelblaasmasjien te huur en ‘n donker agtergrond te kies vir die geleentheid sodat dit mooi uitstaan. The Peachy Peony kan jou help met die mooiste agtergronde vir jou foto’s. Venue’s is ook baie ten gunste van die opsie, want dit mors nie.

BALLONNE
Soos ballonne in die wind sal my soene jou mos vind want ek stuur dit van liefde net vir jou.
En die duisend kleur ballonne, net soos helder somerblomme, is ‘n boodskap wat jou sê ek bly getrou.

Annelie van Rooyen se mooi woorde en pragtige liefdesboodskap om die wêreld in te stuur as julle as man en vrou uitstap. Vul ‘n horde ballonne in jou kleurkeuse met helium en laat dit saam met julle gaste vry. Dis maak besonderse foto’s en is ook nie morsig soos ander konfetti nie.

KLOKKIES AAN LINTE (Wedding Wand)
Baie paartjies trou nie meer in ‘n tradisionele kerk nie en daarom hoor jy ook nie meer die gebeier van die klokke wanneer hulle die trappe afkom nie. Waarom nie weer hierdie romantiese klank deel maak van jou troudag nie? Laat die mense klokkies aan linte swaai wanneer julle uit die seremonie stap. Dink daaraan as ‘n konfetti van musieknote en kleur,’n liefdeslied op julle liefdesfees.

DUIWE OF VLINDERS
Die loslaat van wit duiwe of vlinders is so eie aan vrede en onskuld. Julle koer tog juis soos duifies vir mekaar op julle troudag en watter bruid voel nie soos ‘n feëprinses as daar vlinders betrokke is nie? Julle kan as paartjie ‘n paar wit duiwe en die gaste vlinders, wat in boksies is, vrylaat.

KONFETTI IN ‘N BAL (pinata)
Nie alle konfetti hoef direk na die seremonie gegooi te word nie. ‘n Oulike idee is om die gaste te vra om pittighede, brokkies raad of seënwense op strokies papier te laat skryf, terwyl die bruidspaar foto’s neem, en dit dan in ‘n konfetti-bal te gooi wat julle twee dan met die onthaal kan stukkend slaan. Julle kan dan heerlik later aan alles gaan lees. Daar is ook tipes beskikbaar wat kan ontplof (sonder dat die bombregade nodig is). Dit is pragtig om te doen sodra julle die dansbaan geopen het.

SWEWENDE LANTERNS EN VONKELSTOKKIES (starlights)
Laatmiddag/aandtroues is ideaal vir hierdie tipe konfetti. Gaste kan vonkelstokkies aansteek en ‘n paadjie maak vir die bruidspaar om af te loop onder die lig van die mini-vuurwerkies of hulle kan swewende lanterns loslaat om die liefdesvuur wat in julle brand te simboliseer. Maak net seker julle skep nie ‘n brandgevaar nie!

As jy hou van gewone konfetti uit papier, is dit ook reg, maar die opsies is eindeloos en die verpakking en ten toonstelling daarvan ook. So wees kreatief!

Artikel: Yolande van Deventer
Foto’s: Pinterest

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA