Liefde vind jou soms waar en wanneer jy dit die minste verwag… net soos wat dit Eduard en Maryke ewe onverwags op sosiale media kom verras het. Hier is hulle storie.

’n Troue was die uiteinde van die liefde wat Eduard en Maryke op Facebook gevind het. Hulle deel hulle liefdesverhaal en sprokiesdag met ons.

DEEL DIE STORIE VAN JULLE LIEFDE MET ONS?
“Ons liefdesstorie het begin met ’n Facebook-uitnodiging. Die outjie met die mooi blonde hare se profielfoto het my oog dadelik gevang. Hy het in Potchefstroom gebly en ek het die volgende jaar op Potch begin studeer. Ons het afgespreek om mekaar by die mees sentrale punt op kampus te onthoet, by die Kalfyn. Dis was ’n koue wintersaand en hy het opgedaag in sy gholfuitrusting, met ’n cuppaccino in die hand. Ons het mekaar ’n hele ruk geken voordat ons ernstig geraak het, maar ek het van die eerste soen af geweet dat hy die ou is vir my.”

HOE HET HY SY LIEFDE VERKLAAR EN DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Hy het ’n verjaardagnaweek beplan om sy vriend en sy eie verjaardae te vier. Ons moes die vriend by die lughawe gaan haal, want hy is ’n vlieënier. Hy het toe aangebied om ons vir ’n kort vlug oor Centurion te neem. Terwyl ons deur die wolke gesweef het, het Eduard vir my gesê dat hy lief vir my en dat ek hom gelukkig maak. Toe ek deur die venster kyk, was ons vriende en familie op die krieketveld en het vlaggies gewaai – op die gras was groot letters, wat gelees het: TROU MY. Toe ons op Lanseria land, het die brandweer die vliegtuig van die kant af natgespuit om ons te salueer. Hier is die video van ons verlowing.”

VERTEL ONS VAN JULLE TROUBEPLANNING?
“Ek was ’n baie georganiseerde bruid. Ek het van die begin af geweet wat ek wil hê en wat nie. Dit maak die hele proses van troue reël soveel makliker as jy ’n besluit kan neem en daarby bly. Ons kleurskema was basies wit en groen met baie verskillende kleure blomme. Ek en Eduard het van die begin gesê dat ons liefde wou vier met net ons naaste familie en vriende, mense wat iets in ons lewe beteken. Ons wou hê dat die atmosfeer ontspanne en vrolik moes wees. Stywe troues is nie vir ons nie.”

WAS DAAR DOEN-DIT-SELF-PROJEKTE BETROKKE BY DIE VOORBEREIDING VAN JULLE TROUE?
“* Ek en Eduard het nie tradisionele uitnodigings gemaak vir die troue nie. Ons het ons eie trou-webtuiste ontwerp. * My skoonpa het vir ons tafelnommers gemaak. Dit was klein gholfvlaggie, met die tafelnommer op, wat op ’n grasgroen grasperkie geplaas is, soos ’n klein setperk. Dit was baie oulik en oorspronklik.
* Die spyskaart en tafelplasings het ek en Eduard self ontwerp op die rekenaar en op mooi papier gedruk.
* Ek is ’n juffrou en het vir die veertig kinders in my klas gevra om ’n prentjie van my troue te teken en ’n paar sinne by dit te skryf. Ek het toe die prentjies gelamineer en dit buite die onthaalsaal geplaas sodat ons gaste daarna kon kyk. Dit het die gaste baie vermaak.”

WATTER RAAD HET JY VIR BRUIDE?
* Wees georganiseerd en weet wat jy wil hê.
* Kies ’n doeltreffende fotograaf en troubeplanner.
* Moenie alles self probeer doen nie, delegeer!
* Begin jou troue vroeg, sodat jy waarde uit die dag kan kry.
* Koop gemaklike skoene.
* Neem alles in en onthou dat die dag daaroor gaan om julle liefde vir mekaar te vier.”

Liefde is voorwaar ’n pragtige ding, veral as dit uitgebeeld word in ’n mooi troue soos hierdie!

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering, spyseniering, dekor en blomme: Victorian Manor
Verhuring: Silverstar Hiring
Troukoek en staander: Bruidegom se pa
Fotograaf: Charl van der Merwe
Musiek: Perfect Sounds Mobile Disco
Trourok: Bridal Wardrobe
Hare en grimering: Debbie Ellis
Bruidegom se uitrusting: Edgars en Polo
Vervoer: JP Grobler

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA