’n Gesigmasker is hierdie seisoen se nuutste mode-item en as jy hom móét dra wanneer jy werk en troue beplan, kan jy net sowel stylvol lyk… klerekas.com kan jou hiermee help.

Die Covid-19 het ons lewens redelik kom deurmekaar krap en ons manier van leef ten minste vir die volgende paar maande kom verander.

Gesigmaskers gaan nog lank deel wees van 2020 se klerekas en as jy vergaderings oor jou troue gaan moet bywoon, kan jy netsowel stylvol lyk en – net soos wat jy sou met oorbelle en skoene – vir jou iets mooi uitkies wat jou voorkoms gaan komplementeer.

klerekas.com stel jou in staat om met die haute couture van gesigtoebehore jou nuwe normaal aan te pak. Dié kreatiewe eenstop aanlyn-klerewinkel, wat aan beide mans en dames se behoeftes voldoen – het pas ’n reeks ontwerpersgesigmaskers bekendgestel. 

Hierdie maskers is stylvol en in verskillende kleure, patrone, temas en groottes beskikbaar… sodat jy die wêreld kop-om-hoog en in die nuutste maskermodes in die oë kan kyk in hierdie uitdagende tyd en so ook jou deel doen om dié virus op sy plek te sit.

Buiten vir maskers, kan jy natuurlik ook jou klerekas aanvul of jou gevolg stylvol laat lyk met een van hulle unieke kledingstukke of bykomstighede.

Ons het met Rianca de Wet, die besturende direkteur van dié besigheid, gaan gesels oor hoekom hulle besluit het om maskers te maak en waar julle hierdie oulike toebehore in die hande kan kry.

HOEKOM HET JULLE BESLUIT OM GESIGMASKERS TE MAAK WAT STYLVOL EN PRAKTIES IS?

“Ek het nooit aan die begin van die jaar gedink dat ’n gesigmasker so ’n treffer in 2020 gaan wees nie. Ons streef daarna om altyd ’n stappie voor te wees. Daar is baie besighede daarbuite wat gesigmaskers vervaardig, maar klerekas.com doen dit in styl. Elke item wat ons ontwerp, hetsy dit ’n paar vellies of ’n mooi rokkie is, kan altyd op twee maniere gedra word – formeel of informeel en daarom was ons dadelik geïnspireer om so ook die klerekas.com-stempel op ons gesigmaskers af te druk. Ons patrone en ontwerpe is alles behalwe vervelig, maar dit is ook stylvol en elegant en dit is die verskil! Dit maak egter nie saak watter uitdagings die seisoen inhou nie, ons leuse bly altyd: Uiteindelik, styl nes jy wil!”

VERTEL ONS MEER OOR DIE WERKSKEPPING WAT PLAASGEVIND HET AS GEVOLG VAN HIERDIE PROJEK?

“Hierdie maskerprojek het gedurende die uitdagende tyd vir 45 mense, van pakkers tot stiksters, werk geskep en hierdie mense kan nou elke aand vir hulle gesinne kos op die tafel sit. Deur hierdie moet-hê-mode-item deel te maak van jou klerekas, sal jy nie net die koppe laat draai nie maar ook bydra tot iemand anders se inkomste en voortbestaan.”

HOE HET KLEREKAS.COM ONTSTAAN?

“Johan, my vennoot, het gekla dat hy so moeg is daarvoor dat daar nie stylvolle knopieshemde vir mans is nie – alles is een of ander blokkiesraaisel met ’n vervelige skakering van gister se sondes – en ek het belowe om vir hom ’n knopieshemp te ontwerp wat sy asem sal wegslaan. ’n Hemp wat sy kollegas by die werk sal laat smag na bevordering. Ek het wel die belofte gebreek en sommer ses hemde, nege dasse, twee broeke en ’n strikdas ontwerp. Die res het gelei tot die geskiedenis waar Johan my arm gedraai het om nog olie in die naaimasjien te spuit om vir die hele Suid-Afrika klere te ontwerp vir alledaagse gebruik en spesiale geleenthede.”

WAT IS JOU GUNSTELING-KLEDINGSTUK IN JOU KAS EN HOEKOM?

“Sjoe,  hoe antwoord mens hierdie vraag. Van my hakskoene tot my sonbrille is daar nie regtig gunstelinge nie, want elkeen laat my op die regte tyd soos ’n supermodel voel. Maar ek moet sê dat my heel gunsteling-item ’n ring is. Ek werk baie laat nagte en vroeë oggende, ek ontmoet en skud hand ons kliënte en ek gaan staan voor die ontwerpersbord en skep nuwe reekse met hierdie einste hande en daarom herinner ’n ring my aan my vroulikheid, skoonheid en die genade van Bo.”

WAT IS DIE BESTE MODERAAD WAT JY NOG OOIT GEKRY HET?

“Trek elke dag aan asof dit jou verjaarsdag is!”

WAT IS JOU BOODSKAP VIR MENSE IN HIERDIE MOEILIKE TYD?

“Dis wêreldwyd ’n uitdagende tyd vir almal. Ons almal is onseker en die pad vorentoe is ongeken. 

Te midde van al die swaar en negatiwiteit, dink ek dis ’n belangrike tyd om op jou knieë te gaan en dankbaar te wees vir dit wat jy wel het en om ’n doelbewuste besluit te maak om positief te wees. Wanneer jy die manier waarop jy na dinge kyk verander, sal die dinge waarna jy kyk ook ook begin verander. Wees dankbaar vir jou gesondheid, jou verstand, vir die mense om jou en maak ’n doelbewuste besluit om eerder die mooi om jou raak te sien. In hierdie moeilike tyd is jou denke al wat ’n verskil kan maak.”

Om jou masker of gunsteling-uitrusting te bestel sodat jy kan stylvol lyk, besoek www.klerekas.com 

Foto: LR Photography

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA