Maak jou eie paaseiers uit sjokolade
Maak jou kind se eerste Paasfees ekstra-spesiaal met tuisgemaakte sjokolade paaseiers vir die hele gesin. Grootmense sal dit net soveel geniet.

Tuisgemaakte geskenke is deesdae die in ding, veral as daardie tuisgemaakte items nog eetbaar is ook. Daarom sal jy nie net in die kleingoed se goeie boekies wees as jy van hierdie heerlike sjokolade paaseiers maak om jou kind se eerste Paasfees te vier nie, want grootmense sal ook gaande wees oor so ’n geskenk.

TUISGEMAAKTE SJOKOLADE PAASEIERS

Genoeg vir 1 paaseier

BESTANDDELE
2 x 100g smeltsjokolade van jou keuse
2 teelepels olyfolie
2 eierhelfte-gietvorms

METODE
1 Maak die sjokolade oop, breek een blokkie by elkeen af en hou eenkant vir later.
2 Breek die een sjokolade in stukkies en smelt dit in ’n potjie, wat binne-in kookwater in ’n groter pot op die stoof verhit word.
3 Soos wat die sjokolade smelt, roer ’n teelepel olyfolie by.
4 Draai die hitte af voordat die sjokolade heeltemal gesmelt het.
5 Gebruik ’n lepel om die helfte van die mengsel in die een eierhelftegietvorm te skep en versprei eweredig.
6 Herhaal die proses met die tweede helfte van die mengsel in die ander vorm.
7 Plaas albei vorms vir ten minste ’n uur in die yskas, totdat dit heeltemal hard is. Herhaal dan die proses met die tweede sjokolade.
8 As die eierhelftes dan heeltemal gestol is, hou jou hand vir ’n oomblik om die vorm om die effens warm te maak. Dit sal jou help om die eierhelfte makliker uit die vorm te verwyder. Wees net versigtig aangesien dit maklik breek.
9 Om die twee helftes aan mekaar vas te sit, smelt die twee blokkies sjokolade wat jy uitgehou het. Hou die twee helftes teen mekaar en verf dit liggies aand die buitekant met die gesmelte sjokolade. Laat koel af en bedien of verpak mooi.

Die lekker daarvan wanneer jy jou eie paaseiers maak, is dat jy interessante variasies kan probeer soos:
* Jy kan een helfte uit witsjokolade en een uit bruin sjokolade maak om die beste van beide wêrelde te bied. Jy kan ook verskillende paaseiers maak (wit, bruin en donker) en ’n geskenkpakkie maak wat ’n verskeidenheid ontvang.
* Jy kan gekleurde foelie koop en die eiers, net soos dit in die winkel lyk, verpak… of selfs mooier omdat dit tuisgemaak is.
* Jy kan die paaseiers met gesmelte sjokolade versier of net deur met ’n tandestokkie patrone te maak voordat die eiers heeltemal gestol het.
* Jy kan ook jou paaseiers vul met lekkergoed soos Smarties.

Hierdie is ook ’n heerlike manier om skoolkinders besig te hou.

Mag jy ’n geseënde Paastyd hê.

Foto: Love to Know

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA