maak so jou ma deel van die troue
Al stem jy en jou ma se smaak nie noodwendig met alles ooreen nie, kan jy haar steeds deel maak van julle troue sonder dat sy oorvat of doen waarvan jy nie hou nie. Lees verder om uit te vind hoe.

Troues het nou maar een maal die manier om almal se emosies en senuwees op hol te jaag – en selfs ma’s en bruide wat normaalweg beste vriendinne is, sit soms vas in hierdie tyd. Baie ma’s wil dit op hulleself neem om alles te reël en ander sidder weer om te dink dat hulle op die dag in die kollig gaan wees.
Hoe betrokke jou ma (en selfs jou skoonma) gaan wees by die reël en beplanning van jou troue, sal afhang van ’n paar dinge:

  1. a) Julle verhouding;
  2. b) Haar ouderdom en gesondheid;
  3. c) Jou ouderdom en gesondheid;
  4. d) Hoe naby julle aan mekaar woon; en
  5. e) Wie vir die troue betaal.

Omdat die bruid se ouers tradisioneel verantwoordelik was vir die betaal van die troue, voel baie ma’s vandag nog dat hulle verantwoordelik is daarvoor om die partytjie van die jaar te reël. Maar moderne paartjies betaal meestal deesdae vir hulle eie troues en met al die idees op Pinterest en die internet, het jong bruide gewoonlik reeds ’n idee van wat hulle wil hê en doen.

Dit is wel moontlik vir jou om jou droomtroue te hê én jou ma of skoonma te betrek, sonder dat julle op mekaar se tone trap – en dit kan vir elkeen van julle ’n ongelooflike, konfliklose ervaring wees. Jy moet net weet hoe om dit te benader. Hier is raad om jou ma deel te maak van die troue, sonder dat sy oorvat:

WEES EERLIK OOR HOE JY VOEL
Dit is julle dag en as jy van die begin af eerlik is oor hoe jy voel, sal dit toekomstige konflik uitskakel omdat almal dan weet waar hulle met mekaar staan. Wees ferm, maar moenie gevoelens seermaak nie.

Wenk: As jou ma ’n idee gee vir ’n mooi trourok, wys vir haar die idees wat jy versamel het en gee ’n rede hoekom daardie rok nie vir jou sal werk nie – wees taktvol en nie beledigend nie.

MAAK HAAR VERANTWOORDELIK VIR ’N SPESIFIEKE TAAK
Daar is niks wat iemand so spesiaal laat voel, as om te weet dat sy spesifiek uitgesonder is om iets te doen omdat niemand anders dit beter kan doen nie. Wanneer iemand verantwoordelik is vir iets spesifiek, is die persoon ook geneig om daarop te fokus en bietjie van die ander detail te vergeet. Besluit op een spesifieke aspek – soos byvoorbeeld die dankie-geskenkies, blomme, eetgoed, ensovoorts – wat jou ma kan reël en oor besluite neem en laat dit dan haar verantwoordelikheid wees. Maak seker dat dit iets is waaroor jy nie streng voorkeure of afkeure het nie, sodat dit nie onnodig struwelinge veroorsaak nie.

GESELS OOR DIE GASTELYS
Onthou dat dit ook vir jou ouers ’n spoggeleentheid is en dat hulle dit dalk ook met ’n paar spesiale mense wil deel. Hulle is ook die mense wat op die ou einde familie in die oë moet kyk na die tyd. Besluit hoeveel gaste julle wil nooi en gee dan vir hulle (en jou skoonouers) ’n seker hoeveelheid gaste wat hulle kan nooi. Dis die regverdigste manier, veral as hulle ook finansieel gaan bydra. ’n Ander alternatief is dat jy en jou ma elkeen ’n gastelys opstel en dit dan met mekaar s’n te vergelyk. Probeer om mekaar tegemoet te kom waar moontlik sodat hierdie proses glad kan verloop.

VRA SOMS HAAR RAAD
Ma’s is mal daaroor om raad te gee, hand by te sit en te weet dat haar opinie soms ook tel. Probeer om nie net heeltyd haar idees af te skiet en jou eie kop te volg nie, maar eerder om haar raad te vra oor klein goedjies of aspekte waaroor jy onseker voel. Dit sal die wêreld vir haar beteken en dalk is haar idee nog die ene waaroor gaste nog lank na die tyd sal praat…

BESPREEK DIE BEGROTING MET HAAR AS HULLE BETAAL
As jou ouers vir die troue gaan betaal, is dit belangrik om die begroting met hulle te bespreek sodat hulle kan sien waarop hulle geld spandeer gaan word. Laat hulle ook dadelik weet as sekere items oor die begroting gaan en dink saam aan hoe en waar julle geld kan spaar om op te maak daarvoor.

STEL BELANG IN HAAR UITRUSTING
Jou ma wil ook graag mooi lyk op jou troudag. Maak daarom tyd om saam met haar te gaan wanneer sy haar uitrusting koop. Maak sommer ’n uitstappie daarvan, sodat dit ’n spesiale herinnering kan wees vir julle albei. Gee raad, maar ook komplimente wanneer sy iets aanhet wat mooi lyk. Jou ma hoef nie noodwendig in te skakel by die troue nie, maar moet tog by die troukleure pas omdat sy in baie van die foto’s gaan wees, so help haar om iets te kies wat sal werk en waarin sy gemaklik sal voel.

SȆ DANKIE
’n Klein dankie-geskenkie of blomme op die dag van jou troue, sal jou ma baie spesiaal en geliefd laat voel. Wys vir jou ma hoe baie jy haar waardeer en hoeveel haar hulp vir jou beteken het.

Hoe jy jou ma en die situasie benader, sal ’n groot invloed hê op hoe hierdie spesiale tyd in jou lewe gaan verloop – so wees slim en behandel haar met die nodige respek.

Foto: Huffingtonpost

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA