’n Mini-wittebrood is deesdae die in-ding. Marida van Schalkwyk vertel hoekom ’n naweek by KolKol Mountain Lodge in die Overberg paartjies se stoutste verwagtinge sal oortref.

Een uur vanaf Kaapstad, 35km vanaf Hermanus, ontmoet romantiek en natuurskoon mekaar. KolKol Mountain Lodge naby Botrivier in die Overberg se nege eenvoudige, dog luukse, selfsorg houthuisies is ideaal vir ’n mini-wittebrood. Elkeen is privaat, romanties en modern.

In elke huisie kan pasgetroudes uitsien na:
• ’n koningingrootte bed
• 100% katoen bedlinne
• handdoeke
• ’n kaggel vir die koue aande
• ’n volledig toegeruste kombuis
• ’n patio met ’n braaiplek

Mens kan natuurlik nie van liefde alleen lewe nie en KolKol weet hoe die pad na ’n man se hart loop. Afgesien van koffie en tee wat voorsien word, word gaste ook bederf met ekstras soos beskuit, botter, eiers en melk. Dis die aandag aan fyn detail wat verblyf hier so onvergeetlik maak.

Die hoogtepunt van ’n mini-wittebrood by KolKol is sonder twyfel die warm plonsbadjie op die stoep van elke huis. Elkeen is heeltemal privaat en het ’n asemrowende uitsig. Wat kan dan nou meer romanties wees as om soggens saam ’n koppie koffie in die stomende badjie te geniet of saans oor ’n glasie wyn na die sterre te kyk? Die water word heerlik warm gehou deur ’n klein stofie en dis net nodig om af en toe ’n stukkie hout op te gooi. Paartjies kan sommer met hul aankoms die plonsbadjie inwy aangesien personeel reeds voor die tyd die water warm maak.

Karen en Rudi Oosthuyse, eienaars van KolKol, is bekend daarvoor dat hulle geen moeite ontsien om gaste se verblyf so aangenaam moontlik te maak nie. Volgens Karen bied hulle ook ’n spesiale pakket aan wat ideaal is vir ’n mini-wittebrood. Die buid en bruidegom se huisie word romanties versier, ’n bottel Genevieve MCC wag in die yskas en ’n middagete van die nabygeleë Gabriëlskloof wynplaas word afgelewer. Verder sluit dit die gebruik van twee kamerjasse in, asook twee pare KolKol-geborduurde pantoffels om huis toe te neem.

Elk van die nege huisies het ’n unieke atmosfeer en is baie privaat. Met oulike fynbosname soos ‘Sugarbush’ en ‘Sewejaartjie’ is dit moeilik om een te kies, maar Karen sal ‘Blushing Bride’, ‘Pincushion’ of ‘Painted Lady’ aanbeveel as die beste keuses vir ’n wittebrood.

Die versoeking is natuurlik groot om heel naweek op die stoep in die warm water deur te bring, maar die Overberg omgewing bied baie meer.

Doendinge in en om die plaas
• Daar is niks soos ’n aromaterapie massering (sommer op die stoep) om die laaste spanning van die troue af te spoel nie.
• Aktiewe paartjies sal die 3km staproete geniet of kan selfs die Van der Stel-pas met ’n bergfiets aandurf.

Doendinge binne ’n 35km radius
• Vier die lewe en die liefde oor ’n glasie wyn by enige van Botrivier se veertien wynplase. Geniet sommer ’n romantiese ete op die koop toe.
• Verken die omgewing te perd. ’n Rit langs die see of deur die wingerde is net die ding om jou geliefde mee te verras.
• Avontuurlustige paartjie kan hul mini-wittebrood opkikker deur ’n Cape Canopy Zipline Tour oor die Elgin Vallei te onderneem.
• Vir ’n adrenalieninspuiting is daar selfs skubaduik, vierwielmotorfietse en waterski om te probeer.

Hou in gedagte
KolKol is baie gewild, daarom is dit nodig om betyds te bespreek.

’n Mini-wittebrood by KolKol beloof om ’n onvergeetlike ervaring met baie spesiale herinneringe te wees. Geen wonder dat so baie paartjies hierheen terugkeer om hul huweliksherdenking te vier nie.

Besoek gerus KolKol se webwerf om meer uit te vind.

Artikel: Marida van Schalkwyk
Foto’s: KolKol Mountain Lodge deur Lizelle Lötter

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA