Plaastroue
Jo-Anne is mal oor die markstalletjies van Kaapstad, wat dan ook die tema was vir haar en Robin se troue. Gemaklik en pret som hulle mooiste dag perfek op.

markdag-troue met koslorries 2
Die twee ken mekaar al vandat hulle twaalf jaar oud is. Hulle pa’s is beste vriende en een aand het die twee se paadjies weer gekruis. Sy het sommer ’n week nadat hulle begin uitgaan het geweet dat hy die man vir haar is.

DIE BESTE VERJAARSDAG OOIT!
Watter beter geskenk kan jy nou kry as om op jou verjaarsdag, deur die man van jou drome, gevra te word om sy vrou te wees? Dit is presies wat Robin met haar gedoen het. Die groot vraag het vir haar in die binnekant van haar verjaarsdagkaartjie gewag. ’n Jaar later het hulle die knoop deurgehaak.

JO-ANNE SE BEPLANNINGS WENKE:

  • Kies heel eerste ’n datum.
  • Kyk na hope prentjies om idees te kry.
  • Hou dit eenvoudig.
  • Gebruik jou tyd met die beplanning en maak dit opwindend.
  • Staan bietjie terug van die skare op jou groot dag om alles in te neem.

markdag-troue met koslorries 3

KOSLORRIES EN KORTBROEKE
Deel van die markgevoel was die koslorries en marktent (kompleet met bale vir sitplek) wat Jo-Anne hulle se familieplaas in ’n feesterrein omskep het. Lemoncello, Pizza Piaggio en The Grubbery het die gaste bederf met die heerlikste drankies en kos. Boonop het die sjarmante kortbroek pakke van die bruidegom en sy gevolg bygedra tot die plesierige gevoel van die dag.

WIE HET GESÊ GRYS IS VAAL EN FORMEEL?
Grys met rustieke afwerkings was die perfekte kleur vir hulle tema. Met ’n beeldskone bruid en ’n aantreklike bruidegom het jy kleure nodig wat hulle nie sal oorskadu nie. Jo-Anne se vintage styl rok het haar pragtig gekomplementeer.

BESKRYF JULLE TROUDAG VIR ONS?
“Dit was só ontspanne en spesiaal dat dit skoon hartseer was om aan die einde van die aand te besef dat dit nou alles oor en ’n verby is! Ek het ’n ongelooflike ondersteuningsnetwerk gehad in my beste vriendin Ashleigh, haar ma en my suster. Terwyl ons klaargemaak het, het ons gedans en soveel pret gehad. Die fotograwe, Matthew en Krystle Carr, was ongelooflik en die grimeerkunstenaar, Mari Conradie, was briljant!”

markdag-troue met koslorries 4

DIENSVERSKAFFERS
Venue: Jo-Anne hulle se familieplaas
Koördineerder: Catherine de Reuck (Bruid se suster)
Spyseniering: Lemoncello, Pizza Piaggio, The Grubbery
Musiek, Blomme en Drankies: Self
Dekor en verhurings: Baie Goeters
Fotograaf: Matthew Carr Photography
Trourok: Elizabeth Stockenstrom
Hare en grimering: Mari Conradie

Artikel: Yolande van Deventer

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA