troukoors_romantiese_totsiens_1
Jan-Harm en Janique moes na hulle troue totsiens sê vir hulle geliefdes om oorsee te gaan werk, daarom was hulle mooiste dag ’n gesellige, romantiese kuierfees in Klerksdorp.

troukoors_romantiese_totsiens_2

Dis is nooit lekker om totsiens te sê nie, veral nie as dit jou groot April-troue vervroeg na Februarie (wanneer jou spaarvarkie nog nie genoeg gegroei het en jy oorsee moet trek nie) toe nie… maar Jan-Harm en Janique het dit reggekry om in styl koebaai te sê tydens hulle romantiese dag – getooi in donkerblou en blush-pienk om hulle albei se persoonlikhede weer te gee. Hulle was verstom oor hoe alles net soomloos bymekaar gekom en gevloei het op hulle groot dag.

Jan-Harm het die groot vraag gevra tydens ’n romantiese piekniek na ’n adrenalienbelaaide dag van paragliding – ’n eerste ervaring vir hulle albei – en dit is ook hoe hulle lewe saam is, een opwindende liefdesavontuur wat nooit voorspelbaar is nie. “Jan-Harm is liefdevol, lojaal, trots en die beste spanmaat vir al ons avonture saam. Hy daag my uit en is laf en laat my lag,” verklap Janique oor hoekom sy mal is oor haar bruidegom.

troukoors_romantiese_totsiens_3

“Ons wou graag ’n gemaklike atmosfeer skep en dit vir die gaste laat voel asof hulle saam met ons by die huis kuier, omdat dit ons laaste groot kuier saam was. Ons het die meeste van die aand nie beplan nie en alles het net spontaan gebeur. Omdat ons begroting knap was, het ons baie aspekte self behartig. Die restaurant is Jan-Harm se tannie s’n en sy het aangebied dat ons die troue daar kon hou, ’n vriend het musiek gemaak, ons konfetti was gekleurde voëltjiesaad, ons het botteltjie bymekaargemaak en self geverf en die blomme is deur my ma en sussie gedoen. Al wat vir ons nogal ’n krisis was, was die tafelplasings en my raad is beslis dat jy dit nie moet los tot laaste nie. Verder moet jy nie te veel dink nie, doen net!” gesels Janique.

Die gelukkige paartjie het nou wel Suid-Afrika se stof vir eers van hulle voete af geskud, maar kon darem spesiale herinneringe maak saam met hulle gaste voordat hulle weg is.

troukoors_romantiese_totsiens_4

DIENSVERSKAFFERS
Venue, spyseniering en drank: Rosemary’s Restaurant
Blomme en dekor: Jan-Harm en Janique Steenkamp, Glau-mare en Megan Kilian
Troukoek: Glau-mare Kilian
Fotograaf: Maiden Moose Photography
Rok: Mara Bosch; 082 638 2758
Hare: Bianca Lubbe; 083 632 7010
Grimering: Charleen Rheeder; 079 363 3449
Bruidegom se uitrusting: Edgars

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA