'n wittebrood op die see
Is julle min lus vir mense, rondry en foonoproepe tydens die eerste week van julle gtroude lewe? Maak dan julle wittebrood ekstra privaat en ekstra spesiaal deur vir julle plek te bespreek op ’n luukse plesierboot om julle huweliksreis mee af te skop.

Daar is darem niks so romanties soos die idee om saam met jou splinternuwe man weg te vaar na ’n geheime bestemming, waar niemand julle kan pla nie. Dit is juis ook hoekom dit deesdae so gewild is onder pasgetroudes om aan boord van ’n luukse plesierboot wittebrood te hou. Dit is nie net ontspannend nie, maar ook iets anders as die gewone eilandvakansie of wegbreek na die bosveld – en dit gaan beslis ook nie jou spaarvarkie aan skerwe laat spat nie.

ROMANTIESE BESTEMMINGS
Wanneer julle besluit om julle wittebrood op die water te spandeer, hoef julle nie net tot een bestemming beperk te wees nie. Daar is baie verskillende opsies beskikbaar waaruit julle kan kies wanneer julle ’n bootvaart bespreek. Daar is ook baie voordele, want julle bereik daardie verskillende bestemmings deur julle self te geniet met die aktiwiteite aan boord terwyl julle na die volgende plek reis.

HEERLIKE EETGOED
Plesierbote is bekend vir die heerlike kos wat aanboord bedien word en die beste van alles is dat dit ingesluit is by die prys. Daar is gewoonlik verskeie restaurante om van te kies en elkeen bied ’n groot verskeidenheid vars, seisoenale disse wat deur kennerkokke voorberei word. Al wat julle self moet koop, is ’n lafenissie vir die keel en verder hoef julle oor niks anders bekommerd te wees nie – want op julle wittebrood wil julle oor niks bekommerd wees nie.

’N WYE VERSKEIDENHEID AKTIWITEITE
As julle darem nie heeldag in die kamer wil bly nie, is daar ook hope vermaak aan boord om julle besig te hou. Buiten vir verskeie bestemmings, kan julle ook watersport, spabehandelings of luiwees by die swembad oorweeg gedurende die dag. Saans kan julle jul geluk toets by die casino, gaan dans of na een van die topgehalte vertonings gaan kyk wat in die teater gehou word.

SPESIALE BEHANDELING VIR WITTEBROODPAARTJIES
MSC Cruises het tans ’n spesiale 10%-afslagaanbod vir paartjies wat binne ses maande van hulle troudag af op ’n bootvaart wil gaan. Die personeel sal ook uit hulle pad uit gaan om seker te maak dat dit ervaring onvergeetlik is en daar is ook ’n spesiale verrassing by die prys ingesluit.

MOETS EN MOENIES VIR DIE PERFEKTE BOOTVAART
* Belê in ’n kajuit met ’n balkon, dit is regtig die moeite werd.
* Vra vir ’n tafel vir twee, want julle wil nie noodwendig een met vreemde mense deel tydens julle wittebrood nie.
* Bespreek spesiale ervarings vooruit en verras jou nuwe helfte.
* Bespreek spabehandelings vooruit om teleurstelling te voorkom en maak seker dat julle van kop tot tone bederf word tydens julle eerste vakansie as getroudes.
* Vat naarpilletjies saam, jy wil nie julle hele wittebrood siek wees nie.
* Moenie te veel inpak nie, want kajuite het beperkte spasie.
* Moenie laat wees nie, want die skip wag vir niemand nie. Probeer om reeds die vorige dag te vlieg, sodat vlugvertragings nie julle wittebrood in die wiele ry nie.
* Moenie dieet terwyl julle wittebrood hou nie, want dan gaan jy uitmis op wonderlike kos.
* Moenie vergeet om te noem dat dit julle wittebrood is wanneer julle bespreek nie. Julle verdien daai ekstra-spesiale behandeling.

Artikel en foto: MSC Cruises

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA