Naellak wat jy op jou troudag aan jou vinger- en toonnaels sit, kan jou hele voorkoms maak of breek. Dit is daarom belangrik om die regte keuse te maak. Ons het raad!

Hoe kies jy die perfekte kleur naellak vir jou troudag… en sommer vir jou wittebrood ook? Maklik, jy neem net die volgende paar wenke in ag en jy sal beslis nie ’n flater begaan in hierdie afdeling nie. Dit hoef nie ’n moeilike keuse te wees as jy jou huiswerk behoorlik doen nie.
 
LENGTE VAN JOU NAELS
Langer naels is geneig om kleur beter te laat vertoon. Maar dit kan ook jou vingers soos kloue laat lyk as die kleure te helder is, so wees versigtig wanneer jy jou finale keuse maak. ’n Neutrale kleur naellak, wat nie te helder of te donker is nie, sal pragtig lyk op langer naels… maar sal korter naels stomp laat lyk. ’n Lige, sagte neutrale kleur kan weer korter naels langer laat vertoon. Die beste raad is om die effek van die kleur op jou naels te toets deur dit fisies aan te wend en die resultate met mekaar te vergelyk.

ONTHOU WAT DIE GELEENTHEID IS
Op jou troudag, is die kanse skraal dat neongroen naellak geskik gaan wees vir die geleentheid. As jou trourok, juwele, skoene en dekor pastelkleure is, sal dit heel moontlik beter wees vir jou om naellak te kies wat daarby pas. As jy egter nie gebind wil wees aan ’n kleur op jou groot dag nie, is iets soos ’n Franse manikuur (met wit of ’n ander pastelkleur) dalk die ideale oplossing.

LAAT DIT BY JOU LIPSTIFFIE PAS
Een manier om te bepaal of ’n kleur mooi gaan lyk by jou velkleur, is om dieselfde kleur naellak te kies as die kleur lipstiffie wat jou lippe op hulle mooiste laat vertoon… en andersom. Die kanse is dan ook goed dat jou naels sal inskakel by die res van jou kleurskema.

KIES KLEURE WAT IN DIE MODE IS
Net soos klere, is naellak ook seisoenaal en is daar gereeld nuwe kleure en tendense wat die mark oorheers. Maak seker dat jy jou huiswerk doen, want daar is dalk net ’n moderne kleur of dalk naelkuns wat jou naels en ringvinger vreeslik mooi sal kompelenteer. Dit is nie goed om modes slaafs na te volg nie, maar partykeer kan die nuutste modes wel baie behulpsaam wees, om die perfekte eindresultaat op te tower.

KLEURE WAT JOU VEL KOMPLEMENTEER
Sekere kleure naellak en lipstiffie werk beter saam met sekere veltipes en velkleure. Dit is daarom belangrik om te weet wat jou velkleur is en kleure te kies wat die beste daarby pas.
’n Bleek vel lyk mooi saam met sagte pastelpienk en –blou, beige en appelkoos, terwyl donker velle weer beter vertoon saam met ryk kleure soos bruin, pers ensovoorts.

Laat jou hande en voete vir die regte redes aandag trek op jou troudag deur slim keuses te maak wanneer dit by naellak kom.

Foto: Static WeddingBee

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA