nagereg
Nagereg kan die kersie op die koek wees op julle mooiste dag. Veral as dit ongelooflik smaak en mooi voorgesit word. Trouvrou bederf ons die maand met ’n Crème Brûleé-resep wat perfek sal werk.

ekspo-2

Nagereg is iets wat selfs die stresvolste dag kan opkikker en is die ideale manier om ’n feestelike geleentheid mee af te sluit. As jou troukoek nie jou nagereg gaan wees op die dag nie, is dit dalk ’n goeie idee om iets baie treffend en spesiaal voor te sit.

Hierdie heerlike romerige nagereg, is die perfekte bestanddeel vir julle perfekte dag en sal jou gaste vir dae lank laat praat. Die beste van alles is dat jy, en jou gevolg, self kan inspring om dit te maak en sodoende kostes kan bespaar. Tuisgemaakte nagereg is ook baie meer spesiaal, so oorweeg dit gerus. Dis ook ’n baie oulike nagereg om op julle eerste Valentynsdag te bedien.

GENOEG VIR 6
TYD: 55 MINUTE
BESTANDDELE:
4 eiergele
4 e suiker
475 ml room
1 t vanieljegeursel

METODE:
1. Voorverhit die oond tot 180⁰C.
2. Voeg die 4 eiergele in ’n skoon bakkie.
3. Gooi die suiker in ’n ander bakkie. Voeg die room by die suiker en meng saggies met ’n draadhandklitser. Sit in die mikrogolf vir sowat 90 sekondes tot die suiker opgelos is.
4. Haal die room en suikermengsel uit die mikrogolf.
5. Klits jou eiergele liggies en roer by die roommengsel in.
6. Terwyl jy roer, voeg die vanieljegeursel by. Roer tot al die bestanddele goed gemeng is.
7. Sit die 6 koppies (oondbestand) waarin jy die Crème Brûlée gaan bak in ’n oondpan. Vul dit sowat ¾ vol met die mengsel. Plaas die oondpan met die koppies in die oond. Vul die oondpan met water om die koppies tot in die helfte te bedek.
8. Bak vir sowat 40 minute. Wanneer die Crème Brûlée klaar is sal dit nog so bietjie sag wees. Haal stadig uit die oond en laat dit vir ’n rukkie afkoel.
9. Plaas nou die Crème Brûlée oornag in die yskas vir beste resultate.
10. Indien jy haastig is, sal so 2 – 4 ure in die yskas dit redelik laat stol.
11. Voor bediening, sprinkel ’n lagie suiker bo-oor die Crème Brulee en blaas met ’n blaasvlam tot goudbruin.
12. Laat afkoel vir ’n paar minute en bedien met ’n paar skyfies aarbeie of framboos.

Die Trouvrou Resepteboek is propvol oulike soetgoed, en is ’n moet-hê-item vir elke vrou se kombuis. Gaan volg hulle gerus op Facebook vir meer inligting.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA