Jou oorbelle moet jou rok komplementeer op jou troudag en nie daarmee kompeteer nie. Gina van Staden verklap wat jy in gedagte moet hou wanneer jy jou oorbelle kies.
Jou oorbelle rond die prentjie af op jou mooiste dag, daarom moet jy slim kies. Hou die volgende aspekte in gedagte wanneer jy jou keuse maak:
BEPAAL DIE REGTE LENGTE VAN JOU OORBELLE SÓ
’n Maklike manier om die lengte, wat by jou gesig pas te toets, is om te kyk na die wydste deel van jou kakebeen. Jou oorbel moet nét bo, of nét onder hierdie deel hang.
KIES DIE REGTE STYL
Jou oorbelle se styl moet pas by jou rok. So as jy ’n elegante/klassieke rok dra, is pêrels of hangdiamante goeie opsies. Vir meer informele rokstyle is ’n minimalistiese of klein oorbel meer gepas. Toets watter oorbelle die beste sal lyk deur dit teen jou ore te hou in die spieël.
KIES DIE REGTE KLEUR
Die dae van tradisionele diamante en pêrels is verby, en bruide raak meer waaghalsig met hulle juweelkeuses. Maak net seker dat jou oorbelle se kleur by jou rok en grimering pas. As jy byvoorbeeld ’n pienk lip het, is rooi oorbelle nie die beste keuse nie. Moet ook nie ’n paar dra wat net een of twee skakerings ligter of donkerder as jou rok is nie, want dit kan lyk of jy die kleur verkeerd gekies het.
KRY DIE BALANS REG
Om ’n goeie balans te handhaaf lyk lang, hangoorbelle beter by skouerlose rokke, of rokke wat nie te veel bo-detail het nie. Rokke met hoë neklyne of oorbaadjies lyk beter saam met korter, kleiner oorbelstyle. Kies jou oorbelle se styl ook volgens jou rok – as jou bostuk baie detail het, kies ’n eenvoudige styl, en andersom.
JOU OORBELLE EN NEKLYN MOET PAS BY JOU HALSSNOER
As jy ’n oorbel-halssnoerkombinasie dra vir jou troue, maak seker dat dit ’n bypassende stel is. Die twee juweelstukke moet mekaar ook uitbalanseer, so ’n dramatiese halssnoer en ’n eenvoudiger oorbel lyk beter saam. Asimetriese rokstyle is nou baie gewilden dis nie ’n gepaste styl om ’n halssnoer mee te dra nie – wees eerder meer waaghalsig met jou oorbelle. Wees versigtig wanneer jy ’n halssnoer én oorbelle oorweeg, omdat dit maklik oordoen kan lyk. Minder is meer in die meeste gevalle.
Oorbelle versier jou mooi gegrimeerde gesig en haarstyl, so om die regte keuse te maak op jou troudag kan jou voorkoms baie beïnvloed. Met ons raad kan dit net ’n positiewe een wees!