oorkom die struikelblokke in jul verhouding
’n Nuwe verhouding het altyd ’n paar struikelblokke om te oorkom voordat dit groei toe iets dieper… en moontlik trouliefde. Uitvlucht se Clara Joubert gee raad oor hoe om hierdie probleme te oorkom.

Verliefwees is een ding, maar ’n nuwe verhouding is dikwels vol struikelblokke omdat jy altyd die verlede saambring en dit kan probleme veroorsaak. So as julle dit wil maak tot by troulief, moet julle van die begin af aan hierdie struikelblokke werk.

Clara Joubert, wat binnekort in die hoofrol in die fliek Uitvlucht te sien is, gee ’n bietjie raad om hierdie potensiële struikelblokke te oorkom.

“Die grootste uitdaging vir ’n nuwe verhouding is verdraagsaamheid en vertroue. Om onvoorwaardelik veilig te voel bymekaar. Nie een van ons stap in ’n nuwe verhouding of huwelik in sonder bagasie, foute en vooropgestelde idees nie. Daar is vriende, familie, gebeurtenisse en issues in almal se lewens. Die belangrikste ding is kommunikasie, en wanneer daar te veel botsings met kommunikasie is, kry ’n derde objektiewe persoon in om te help. Daar is s waarde en waarheid in die sê-ding: People that pray together stay together. Ons kan mekaar nog ’n rat voor die oë draai, maar nie vir God nie, vir Hom staan die liefde bo-aan. Ons almal sou graag ons maat in óns vormpie wou druk. Dit het nog nooit gewerk nie, en sal ook nie in die toekoms nie. Dit is gee en neem. Dit is noodsaaklik dat ons mekaar nie demp in ons drome nie, maar mekaar help vlerke gee om drome ’n realiteit te maak. Daar is regtig belangriker dinge in die lewe om oor te kla as ’n piesangskil op die rak of ’n oop tandepastebuisie! Liefde moet konstant gekommunikeer word. Nie noodwendig deur dit te sê nie, maar met aanraking, met gebare, met kommunikasie. It’s a constant work in progress. Daarom kan mense op tagtig en negentig dit steeds doen, hulle het dit nie skielik op tagtig begin doen nie, maar deur hulle hele huwelik en net nooit opgehou daarmee nie.”

Clara speel die rol van ’n onderwyseres wat besig is om te skei en werk kry by ’n plaasskool in Uitvlucht. “Die boodskap wat ons wil hê mense moet hoor, is dat daar ’n uitweg is uit ’n seer situasie en dat daar altyd hoop en ’n tweede, selfs derde en vierde kans is. Kykers moet die fliek gaan kyk omdat dit goeie nuus is. Daar is ook ’n ubuntu-boodskap van samehorigheid, liefde en eensgesindheid in. Ons kan met ander kulture in vrede saamwerk en leef!”

Uitvlucht begin op 13 Mei 2016 by fliekteaters regoor die land wys. Gaan kyk solank die lokprent en gaan LIKE die Faecbook-blad.

Foto’s verskaf.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA