Ouer gaste is algemeen by troues, veral as oupas en oumas deel in hulle kleinkinders se groot dag. Mercia Eksteen verklap hoe jy spesiale voorsiening kan maak vir hierdie kosbare mense by jou troue.

Daar is so baie maniere waarop jy die ouer gaste by ’n troue kan laat welkom voel. Dit is so belangrik, dat hulle spesiaal voel, want dit is immers ’n voorreg om hulle as deel van jou spesiale dag te kan hê.

Die gesegde “something old, something new, something borrowed something blue” kry ’n nuwe betekenins wanneer die bruid ietsie van haar ouma of oumagrootjie kan leen en aantrek as deel van haar bruidsgewaad. Oulike idees daarvoor, is dalk ’n kousband of ’n paar antieke oorbelle wat ouma op haar huweliksdag aangehad het. Die bruidegom kan ook sy oupa of oupagrootjie vereer om dalk sy mansjetknope te leen wat hy gedra het die dag toe oupa getroud is. Julle kan ook oorweeg om oupa en ouma se liedjie te leen om die dansbaan te open. Dit is die ideale manier om ouers gaste spesiaal te laat voel op jou spesiale dag.

MAAK VOORSIENING VIR ROLSTOELE EN LOOPRAME
Ouer gaste is gewoonlik baie verleë wanneer almal rondjaag om vir hulle plek te maak om te beweeg. Skakel dit vroegtydig uit, deur daarvoor te beplan. Stel jou ouer gaste voor die tyd ook gerus hieroor, sodat hulle met ’n ontspanne gemoed na jou groot dag kan uitsien.

DOEN JOU TAFELPLASINGS REG
Iets om in gedagte te hou wanneer dit kom by tafelplasings, is om van die ouer gaste met gehoorprobleme dalk meer vorentoe en nader aan die bruidstafel te laat sit. Daar is niks so frustrerend en vervelig, as wanneer jy by ’n onthaal is en die helfte van die gesprek mis nie. As dit koud is, plaas die oues nader aan die verwarmer / kaggel en weg van die deur af, waar daar ’n trek is. Maak ook seker dat jou ouer gaste naby die buffet en badkamers sit, of reël dat hulle kos bedien word.

SLUIT HULLE BY FORMALITEITE IN
Buiten daarvoor om heildronke in te stel op die ouer gaste, kan jy dalk ook vir ’n bejaarde lid van die familie vra om ’n humoristies storie te vertel oor die sleutel tot ’n suksesvolle huwelik deur sy eie ervaring met die gaste te deel. Jy kan ook jou oupa vra om die tafelgebed te doen, wat hom baie belangrik sal laat voel. ’n Spesiale nota of dankiekaartjie, spesiaal aan ouma of oupa gerig, maak ook die dag vir hulle onvergeetlik.

Daar is eintlik soveel mnaiere om die ouer gaste, wat ’n huwelik bywoon, se dag en ervaring vir hulle onvergeetlik te maak. Jy moet net reg beplan en hulle in gedagte hou.

Foto:  Cameron Taylor Photography

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA