Ouers kan nogal ’n klippie in die skoen wees as hulle en jou aanstaande nie met mekaar oor die weg kom nie. Maar wat kan jy doen om die situasie beter te maak?

Jou ouers speel ’n groot rol in jou mooiste dag en lewe, maar wat as hulle nie jou aanstaande aanvaar nie?

Van Der Merwe  is ’n nuwe pittige komedie wat juis hieroor gaan. Dit vertel die storie van Marike van der Merwe wat huis toe kom, nadat sy vir ’n jaar in Engeland was. Haar verloofde, George, is ’n Britse mediese student en kom saam met haar Suid-Afrika toe. Hy pas nie juis in haar ouers en oupa se prentjie van die perfekte skoonseun nie. Hoe nou gemaak?

Reine Swart, wat Marike speel in die fliek, gee raad oor hoe om ouers te benader wat vir julle ’n moeilike tyd gee voor die groot dag.

“Dit is reeds ’n groot besluit om met iemand te trou as daar ekstra druk van jou ouers af is. Dit kan jou beslis onderkry en die situasie moeilik maak. Dit kan vir jou voel asof jou ouers nie jou besluite respekteer of jou geluk eerste stel nie, wat jou hartseer kan maak in hierdie tyd wat veronderstel is om vir jou spesiaal te wees. My raad aan die aanstaande bruidegom is om een ouer se guns te wen, sodat jy darem iemand aan jou kant het om die ander – moeiliker – party te oorreed. In my (Marike) se geval, was my ma die beste keuse omdat sy ’n sagte hart het en enigiets sal doen om die vrede te bewaar. Maak die troudatum eerder vroeër as later. Dit sal jou ouers se aandag aflei, omdat hulle tyd sal bestee om gereed te maak vir die troue. Probeer ook om aan hulle te bewys hoe wonderlik jou aanstaande is, deur saam lekker aktiwiteite te doen. Herinner jou ouers hoe lief jy vir hulle is en dat hulle net die beste vir jou wil hê.”

Onthou ook die volgende wanneer jy jou ouers benader:
* Hulle wil jou beskerm en die beste vir jou hê. Al stem jy nie saam nie, moet jy probeer om na hulle standpunt te luister, sodat jy ’n objektiewe besluit kan neem en hulle vrese uit die weg kan ruim.
* Stel jou aanstaande in ’n goeie lig by jou ouers deur hulle bewus te maak van al sy sterkpunte en goeie eienskappe. Miskien sal hulle meer tegemoetkomend wees as hulle hom deur jou oë kan sien.
* Vermy fisiese kontak voor jou ouers, want dit sal hulle net nog meer ongemaklik maak met die situasie.
* Werk aan sy getuiskrif deur ’n betroubare derde party te nader om vir hom ’n goeie woordjie te doen by jou ouers.
* Gee dit tyd… soms moet jou ouers net eers aan die idee gewoond raak om die lig te sien.
* Maak toegewings waarmee julle almal gemaklik is ten op sigte van die troudatum ensovoorts.
* Wees eerlik met hom oor jou ouers se gevoelens, sodat hy sy kant kan bring en nie in die leeukuil instap sonder waarskuwing nie.

Onthou, jou ouers is vir altyd deel van jou lewe. Hulle gee vir jou om en sal toegee as hulle sien dat jy regtig gelukkig is… en daar wees vir jou as hulle vermoedens oor jou aanstaande later bevestig word. Hoe julle hierdie saak benader het langtermyn gevolge, so hanteer dit van die begin af reg.

Van Der Merwe begin op 28 Julie 2017 by teaters regoor die land wys. Gaan kyk hier die lokprent.

Artikel: Yolanda Wessels
Foto: Verskaf

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA