Paartjies wat mekaar voor die troue sien, raak al hoe meer algemeen en dit kan baie voordelig wees. Lees verder om te sien of dit vir jou is.

Baie paartjies meen dat dit bloot bygelowig is dat hulle mekaar nie voor die seremonie mag sien nie. Eintlik verkies baie moderne paartjies eintlik om praktiese goedjies af te handel voordat die formaliteite afskop.

Hier is die voordele daarvan as paartjies mekaar voor die ‘Ja’ sien.

’N MEER PRIVATE OOMBLIK
Paartjies wat mekaar sien voordat die bruid met die paadjie afstap, kan ’n baie private oomblik van bewondering deel, wat nie deur kameras en musiek bederf word nie. Dit kan baie spesiaal wees.

FOTO’S KAN VOOR DIE TYD GENEEM WORD
Al wat paartjies oorhou van hulle mooiste dag, is foto’s. As julle genoeg tyd voor die tyd gebruik om paartjiefoto’s te neem, sal julle die mooiste herinneringe oorhou en uitstal in julle huis. Julle sal ook fris en vars lyk op die foto’s en die fotograaf sal meer daglig tot sy beskikking hê.

DIE SEREMONIE KAN LATER PLAASVIND
Dit kan nogal baie help vir mense wat van ver af kom of moet werk op jou troudag.

GASTE IS NIE VERVEELD NIE
As julle vooraf foto’s neem, sal gaste nie vir julle hoef te wag nie en kry julle die meeste kuiertyd uit die dag.

SENUWEES KAN BEDAAR
Paartjies wat mekaar vooraf sien, is gewoonlik rustiger teen die tyd wat die formaliteite moet begin.

Die nadele…
OM MET DIE PAADJIE AF TE STAP IS NIE SO OPWINDEND NIE
As jou bruidegom jou nou klaar gesien het, is dit nie meer so opwindend om met die paadjie af te stap nie, want jy het klaar sy gesig gesien.

EMOSIE KAN ONTBREEK OP DIE SEREMONIE-FOTO’S
Die emosie, wat in foto’s vasgevang word wanneer paartjies mekaar vir die eerste keer sien, kan verlore gaan as julle reeds vooraf in kontak was.

JULLE MOET VROEG OPSTAAN
Om alles voor die seremonie af te handel, beteken dat die dag baie vroeër sal begin en daarom vir paartjies ook ekstra-lank gaan voel.

DIT KAN AANGEPLAK VOEL
Paartjies wil steeds mooi foto’s en videoskote hê van formaliteite… en om te maak of julle mekaar vir die eerste keer sien, kan dalk effens aansitterig voorkom.

Dit bly egter julle besluit of julle tradisie gaan volg of nie. Paartjies aan beide kante het al suksesvol en minder suksesvolle troudae beleef.

Foto: Matt Schumate

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA