’n Platejoggie kan jou groot dag maak of breek, omdat hy grootliks gaan bepaal of jou gaste hulself gaan geniet. Christell du Preez van die The Peachy Peony gee raad oor hoe om die regte een te kies.

’n Platejoggie is baie belangrik, omdat hy die stemming van jou troue gaan bepaal. As jou platejoggie stywe musiek speel, gaan die gaste ook so voel. Met troues wat vandag meer gaan oor die geselligheid en samesyn van vriende en familie, is dit juis hoekom dit belangrik is om ’n soortgelyke atmosfeer te skep. Hier is ’n paar vrae wat jy kan vra wanneer jy met ’n potensiële platejoggie ontmoet om te verseker dat julle die regte een kies:

VIR WATTER TIPE FUNKSIES HET JY AL WERK GEDOEN EN IS TROUES JOU SPESIALITEIT?
Deur vas te stel in watter tipe funksies jou platejoggie spesialiseer, kan jy bepaal of hy geskik gaan wees vir jou groot dag. Elke tipe funksie benodig ’n unieke benadering en as jou platejoggie in musiekfeeste spesialiseer, mag die musiek dalk so hard wees dat gaste nie met mekaar kan praat nie.

HOE MAAK JY ELKE TROUE ANDERS EN UNIEK VIR DIE PAARTJIE?
Jy wil nie ’n platejoggie hê wat by elke troue dieselfde musiek speel nie. Julle wil tog hê dat julle dag spesiaal is en hy musiek speel waarvan julle ook hou.

MAG ONS LIEDJIES KIES?
Dit is onmoontlik om al die liedjies te kies wat die platejoggie by die troue gaan speel. Gewoonlik weet platejoggies beter waarop mense dans en waarop nie. Hou dit in gedagte, al wil julle baie graag julle eie musiek speel. Laat die platejoggie eerder die musiek kies, maar terselftertyd wil julle ook dalk ’n paar liedjies (wat vir julle spesiaal is) deel maak van die lys. Dit is belangrik om te weet of hy julle sal toelaat om dit te doen.

HOE IS JOU VERHOUDING MET JOU VORIGE KLIËNTE?
Wees versigtig vir enige diensverskaffers wat vorige kliënte slegpraat of slegsê. Hulle sal nie huiwer om so van julle ook te praat nie.

AS JY SIEN DIE KUIER RAAK BIETJIE AFGESAAG, WAT DOEN JY OM DIE ATMOSFEER TE VERANDER?
Dit is belangrik om te weet dat die platejoggie weet hoe om die gaste en atmosfeer te lees en dat hulle weet hoe om die mense op die dansbaan te kry en hulle daar te hou.

KAN GASTE LIEDJIEVERSOEKE GEE EN HOE HANTEER JY DIT?
Hoe ’n platejoggie gaste hanteer, sowel as hulle werk doen, sê baie van watter tipe diens jy kan verwag. Jy wil tog hê hulle moet gaste gelukkig hou sonder om toe te laat dat hulle oorneem.

HET JY EKSTRA TOERUSTING EN WAT DOEN JY AS JOU TOERUSTING BREEK?
As die platejoggie net een stel toerusting het en iets gebeur, wil jy seker wees dat hy nogsteeds die diens kan verskaf. Jy wil nie ’n week voor jou troue ’n nuwe platejoggie soek nie.

HET JY AL BY ONS VENUE MUSIEK GEMAAK?
Die is nie noodsaaklik nie, maar tog ’n pluspunt as jou platejoggie al daar musiek gemaak het. Dit beteken hulle ken die akoestiek en weet waar belangrike kragpunte is.

HET JY EKSTRA GOED SOOS BELIGTING OF ’N ROOKMASJIEN EN KOS DIT EKSTRA?
As jy enige ekstra effekte by jou troue wil hê, is dit belangrik om te weet of jou platejoggie dit het en of jy nodig het om dit by hom te huur.

IS KLANKVERSPREIDING VIR JOU BELANGRIK EN HOE HARD IS JOU MUSIEK?
Jy wil hê die dansbaan moet vuurwarm wees, maar waar die gaste sit en gesels moet hulle gemaklik met mekaar kan praat. As die volume van die musiek belangriker vir die platejoggie is, gaan tannie Poppie en ouma Petra wat mekaar jare laas gesien het, die hele aand op mekaar moet skree… en jy wil nie hê dit moet gebeur nie.

HET JULLE ’N LISENSIE OM MUSIEK TE SPEEL?
Jy wil nie hê jou platejoggie moet in die middel van jou troue gearresteer word, omdat hy nie by SAMRO geregistreer is en fooie betaal het nie.

As jy ekstra musiek inkry soos ’n panfluiter of orkes, moet jy seker wees dat die platejoggie hulle kan akkommodeer. Jy gaan dadelik weet wanneer julle ontmoet het of julle van die diensverskaffer hou of nie. Moenie sleg voel as jy nie ’n goeie gevoel kry nie. Dit is ’n baie belangrike aspek van julle troue wat reg moet wees. Facebook is ook ’n baie goeie bron om te sien watter tipe diens ’n diensverskaffer lewer.

Foto: Discovery DJ’s

Hier is die besonderhede van een van die oulike diensverskaffers wat ons aanbeveel as platejoggie vir jou troue:

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA