Om elke dag in mekaar se geselskap te wees en nog boonop gesamentlike werkspanning te hê, kan ’n uitdaging wees. An-Sophie Jonker het met die groep, Bottomless Coffee Band – wat ook onlangs ’n nuwe enkelsnit uitgereik het, gesels oor hoe hulle dit hanteer. Lees verder as jy raad soek.

Lourens en Esté is ʼn getroude paartjie wat saam sing. Hulle deel hulle ervaring en gee raad vir getroudes wat saam werk en so ook heeldag in mekaar se geselskap is.

HULLE LIEFDESVERHAAL
“Ons het in 2010 in die Universiteitskoor van Stellenbosch ontmoet. Ek was ʼn tweede jaar Bdrama-student en Lourens was reeds besig met sy tweede kursus in Beleggingsbestuur (hy het eers Regte klaar studeer). Dit was liefde met eerste oogopslag, maar dit het ons albei ses maande geneem om dit aan mekaar te erken. In daardie tyd het ons baie goeie vriende geraak en mekaar beter leer ken. Een aand het Lourens my kom optel by die koshuis. Hy het gesê hy is moeg geswot en wil net so ’n bietjie gaan rondry Jonkershoek se kant toe. Oppad soontoe het hy my uitgevra. ʼn Week daarna het ons die Bottomless Coffee Band begin en in 2013 is ons getroud.”

WAT IS DIE UITDAGINGS DAARVAN OM ALTYD SAAM TE WEES?
“ʼn Groot uitdaging is dat ʼn mens té gewoond raak aan mekaar en nie noodwendig die klein goedjies van mekaar meer so baie waardeer nie. Dit kan ook gebeur dat ʼn mens konstant oor werk gesels en vergeet om ook net as getroudes bymekaar uit te kom.”

HOE HANTEER JULLE HIERDIE UITDAGINGS?
“Ons moet elke dag nuut begin. Dit is werklik ʼn besluit wat ʼn mens neem. Geen persoon is presies dieselfde by die huis as by die werk nie, so ʼn mens moet mekaar leer ken en respekteer vir altwee daardie ‘mense’. Ons het ook gesonde grense ingestel. As ons nie die aand ʼn optrede het nie skakel ons teen 17:00 al ons werkstasies af en skink ʼn glasie wyn, sit musiek aan en kook saam.”

WAT IS JULLE RAAD VIR PAARTJIES WAT SAAM WERK?
“Respekteer die verskille wat jy as ‘werknemers’ het en sien dit apart van jou huwelik. Dinge kan baie vinnig baie ernsitg raak, maar dit hoef nie. Lag altyd vir mekaar. Vertrou mekaar se sterk punte en wees versigtig vir ʼn magspel. As daar regtig iets is wat pla, praat vinnig en eerlik met mekaar voordat dit ʼn reuse ding word.”

WAT IS VOLGENS JULLE DIE BOUSTENE VAN ’N GESONDE HUWELIK?

  • Humor
  • Kwaliteit tyd (sonder selfone en sein)
  • Geloof in die krag van jou huwelik; dat as dit gesond is, dit regtig ʼn spieëlbeeld van die perfekte wêreld vol liefde aan mense kan wys.
  • Vriendskap en intimiteit

WAT IS DIE BESTE RAAD WAT JULLE NOG GEKRY HET?
“Aan die einde van alles, lag altyd vir mekaar en moet nooit kwaad gaan slaap nie!”

Bottomless Coffee Band het onlangs ʼn nuwe enkelsnit, Is Ons Al Daar, opgeneem en vertel ons meer daaroor…
Is Ons Al Daar verduidelik die frustrasies van die alledaagse lewe en hoe ons oorweldig word deur die taaklyste wat deur ons kultuur en omgewing opgestel word. Dit gee jou die gevoel dat jy in jou motor wil klim en na êrens rustig en wonderlik wil ry. Daarmee saam, kom die vrae van ‘daar uitkom’ in die lewe. Is ons ooit al daar waar ons moet wees? Vir elke unieke wese wat daar is, is die lewe ʼn unieke reis en het hulle ook hulle eie unieke uitdagings. ʼn Mens kan net dans op die ritme van jou eie lewe; terwyl jy uitreik na vreemdelinge op jou pad om saam te dans sodat alles in die lewe ʼn bietjie beter word, want is ons ooit regtig daar? Die liedjie is ʼn gesamentlike poging van ons albei, geïnspireer deur die alternatiewe lewe op die pad. Dit is opgeneem deur Fred den Hartog in Kaapstad.”

VERTEL ONS MEER OOR DIE MUSIEKVIDEO…
“Die musiekvideo is voor ʼn muur in ons huis verfilm deur kameraman, Corrie Uys. Die video sinspeel op verskillende karakters in die lewe om die storie van die lied uit te beeld. Soos die musiekvideo aangaan raak elke karakter bietjie meer ontspanne en geniet die musiek al hoe meer. Later is al die karakters in “een” skoot wat daarop aandui dat almal op dieselfde paadjie is. Ons beeld elkeen een van daardie karakters uit.”

Kliek op hier om die musiekvideo te kyk.

Jy kan ook nou hulle nuwe enkelsnit, Is Ons Al Daar, hier aflaai vir ʼn bietjie inspirasie. Volg hulle ook op Facebook, YouTube en Instagram.

Lourens en Esté is so ʼn mooi voorbeeld van getroudes wat elke dag saam werk. As jy en jou man in dieselfde bootjie is en raad nodig het om dit te maak werk, volg gerus die sangers van die Bottomless Coffee Band se wenke.

Foto: Collected Pixels

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA