Wanneer die lewe jou die kans gee om vir ’n tweede keer troue te hou, na dood of ’n egskeiding, voel bruide dikwels onseker oor hoe om dit te benader. Minette Badenhorst gee raad.

Baie mense voel dat ʼn tweede troue ʼn klein byeenkoms moet wees, met net naby familie en vriende.  Dalk het jy reeds ʼn groot troue gehad met al die trimmings en sien jy nie kans vir die spanning en reëlings wat met ’n groot gedoente gepaard gaan nie. Daar is gelukkig geen regte of verkeerde opsie nie. Dit hang van elke paartjie af, hoe groot of klein hulle wil gaan met ʼn tweede troue. Volg julle harte en doen wat reg voel. Hier is wel ʼn paar oulike en behulpsame idees vir tweede troues.

TROU-IDEES EN -OPSIES
Brunch-troues is ʼn vreeslike oulike idee vir ʼn tweede troue. Na ʼn klein en intieme seremonie, is ’n laatontbyt ’n goeie opsie. Iets soos ’n omeletstasie, waar elke gas hulle eie happie kan saamstel, kan goed hier werk. Geniet die oggend saam met naby familie en vriende. Geniet dit saam met lemoensap en vonkelwyn.

’n Pop-up troue by julle gunsteling-koffiewinkel kan baie spesiaal wees. Reël met die koffiewinkel om ʼn gedeelte van die restaurant vir julle uit te hou, of die hele winkel indien dit moontlik is. Dit kan afhang van julle hoeveelheid gaste. Hier kan julle koffie en koek geniet na ʼn vinnige seremonie.

Huur ʼn groot strandhuis in ’n kusdorpie en nooi julle naastes vir ʼn naweek weg. Dit is perfek vir ʼn klein en privaat troue. Dit sluit in rustige kuiers op die strand of om die vuur in. Dit kan vreeslik romanties wees met die sterre in die lug en die branders wat heeldag gehoor kan word.

Wegloop is ook natuurlik ʼn baie gewilde opsie. Deesdae beteken elope nie noodwendig Las Vegas nie. Baie mense verdwyn na klein dorpies in Suid-Afrika om stil-stil die knoop deur te haak. So sien julle nuwe dele van die land en is dit ook opwindend om op ʼn ander plek te trou. Hier kan julle besluit of dit net julle twee gaan wees en of julle iemand wil saamnooi.

Natuurlik is oorsee ook ʼn opsie, waar julle dan sommer julle troue en wittebrood in een kan doen. Dit kan aangepas word volgens seisoen asook begroting. Dan stuur julle ʼn trou-aankondiging uit aan alle familie en vriende in plaas van ʼn trou-uitnodiging. Hierdie is baie oulik, veral vir ouer paartjies wat nie noodwendig lus is vir ʼn groot makietie nie.

TROUROK
Hier kan jy speel met kleure! Jy kan gaan vir die tradisionele wit of dalk eerder vir ʼn sagte pienk of iets meer kleurvol. Daar is geen reëls nie, en jy kan speel met jou persoonlikheid en dit met jou rok uitbring. Gaan vir ʼn korter rok (kuitlengte) of selfs ʼn troubroekpak. Kies iets wat vlyend is vir jou figuur, en wat gemaklik sal wees vir die tipe troue waarop julle besluit.

TROUGESKENKE
Die kanse is groot dat twee huise hier saamsmelt. Dit is dus nie nodig vir goed soos broodroosters en ketels nie. Daar is wel ʼn paar vreeslike oulike opsies wat perfek sal wees vir ʼn tweede troue.

Maak ʼn wittebroodgeldvarkie. Dit is waar julle eerder vra vir kontant of geskenkbewyse vir julle wittebrood. As julle die wittebroodbestemming aan julle gaste bekendmaak, kan hulle julle borg vir verskeie aktiwiteite by julle bestemming/hotel. Dit kan insluit spa-behandelings, uitstappies of avontuursport. Julle kan vooraf kyk watter aktiwiteite daar is wat julle graag sal wil doen.

Julle kan vreeslik baie pret hê met die beplanning van ʼn tweede troue, want daar is geen reëls of verwagtinge nie… daarom kan dit wees presies wat julle wil hê.

Foto: Hitched

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA