Die regsaspekte van ’n huwelik, is iets waaroor paartjies selde wil dink. Maar dit is belangrik. Cecile Roux van Basson Roux Attorneys verklap wat verloofdes moet weet.

Baie geluk! Jou lewensmaat het die groot vraag gevra en jy het ja gesê. Daar is so baie reëlings wat nou getref moet word: Die trou-venue, julle eerste dans, wie die gevolg gaan wees en natuurlik om die perfekte rok te kry.

Te gereeld word die regsaspekte nagelaat en van vergeet. Ons weet dat huweliksvoorwaardekontrakte (HVK) nie die mees opwindendste onderwerp is wanneer jy besig is om troue te beplan nie, maar dit is van kardinale belang. In alle eerlikheid, dit is heel moontlik die belangrikste dokument wat jy en jou toekomstige eggenoot ooit sal onderteken.

Alle voornemende troupaartjies sê altyd: “Maar ons is gelukkig en niks sal ooit verkeerd gaan nie, ons is lief vir mekaar”. Hulle besef nie dat ’n huwelik binnegemeenskap van goedere baie meer onmiddellike en verreikende gevolge het nie. Selfs vir paartjies wat nooit skei nie. Daarom is dit belangrik om te verseker dat julle hierdie regsaspekte behoorlik verstaan.

In Suid-Afrika is julle outomaties getroud binnegemeenskap van goedere wanneer julle trou, sonder om ’n huweliksvoorwaardekontrak te registreer. Dit klink dalk nie so sleg om getroud te wees binnegemeenskap van goedere nie. Julle is lief vir mekaar en will alles met die ander persoon deel. Maar verstaan julle regtig wat hierdie regsaspek beteken?

DIE REGSASPEKTE VAN BINNEGEMEENSKAP VAN GOEDERE
1. Julle het een gesamentlike boedel waarvan elkeen ’n 50% onverdeelde aandeel het.
Dit beteken dat al jou bates, ook die wat jy voor jul huwelik bymekaar gemaak het, deel vorm van die gesamentlike boedel (daar is sommige uitsonderings, byvoorbeeld wanneer ’n testament stipuleer dat ’n erfporsie nie deel van die boedel vorm nie). Asook beide se laste aangegaan voor en gedurende die huwelik, word beskou as laste van die gesamentlike boedel. Dus, wanneer een persoon die huwelik betree met baie skuld, vorm hul skuld dan deel van die gesamentlike boedel. Die ander party sal dan gesamentlik verantwoordelik wees vir daardie skuld. Dit sluit enige skuld in, dit kan onderhoud wees aan ’n eks-eggenoot uit ’n huwelik en selfs onderhoud betaalbaar aan buite-egtelike kinders. Sou een van die partye roekeloos wees, sal dit die ander een nadelig beïnvloed, aangesien hulle gesamentlik aanspreeklik is vir skuld. Byvoorbeeld, as ’n eggenoot sy/haar eie besigheid besit en aansoek doen vir ’n oortrokke bedrag, en die besigheid kan nie die oortrokke bedrag betaal nie, kan ’n eis gemaak word teen die gesamentlike boedel.
2. Aangesien jy nie jou eie boedel besit nie, gaan jy jou man of vrou se toestemming nodig hê voordat jy meeste transaksies kan doen. In die geval van koop of verkoop van onroerende/standvastige eiendom of aangaan van enige kredietooreenkomste, gaan jy skriftelike toestemming van jou eggenoot nodighê.
3. Wanneer een party insolvent verklaar word, word albei insolvent verklaar. In hierdie geval, word die gesamentlike boedel, insluitend alle bates spesifiek uitgelaat van hierdie boedel gesekwetreer as ’n binnegemeenskap van goedere, wat beteken dat albei gade saam verantwoordelik is vir alle laste.
4. Wanneer een party doodgaan, moet die hele boedel deur ’n eksekuteur bestuur word.
Die eksekuteur sal deur die reg die hele boedel administreer en nie net die helfde van die oorledene se aandeel nie. Daarom word eksekuteur- en meestersfooie bereken op die bruto waarde van die gemeenskaplike boedel. Verder moet alle verpligtinge in die gemeenskaplike boedel ontslaan word, tensy die oorlewende gade, indien hy of sy die enigste erfgenaam is, dit kan oorneem.

Daar is net te veel nadele en risiko’s om steeds binnegemeenskap van goedere te trou. Veral in vandag se ekonomiese klimaat met meer en meer mense wat hul eie besighede besit of begin.

So, nadat jy na die regsaspekte en gevolge van ’n huwelik binnegemeenskap van goedere gekyk het, het jy en jou voornemende eggenoot die besluit geneem om te trou buitegemeenskap van goedere. Lees volgende week meer hieroor.

Vertaling: Minette Badenhorst
Foto: Bride and Breakfast

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA