Romanse kan maklik na die troue soos mis voor die son verdwyn omdat julle mekaar mos nou ‘gevang’ het. Die huwelik is harde werk, wat elke dag aandag vereis. Gina van Staden het raad.

Dis moeilik vir pasgetroudes om te dink dat die romanse nie altyd so natuurlik en spontaan gaan wees nie. Hier’s ’n paar praktiese maniere om die na-troue romanse aan die brand te hou.

MOENIE IN ’N GROEF VERVAL NIE
Vir die eerste ruk na die troue hardloop die hormone nog hoog, maar daar sal wél ’n tyd kom dat dit aansienlik gaan verminder. Die stres van rekeninge betaal, kinders grootmaak, of selfs gewoonte, kan ’n demper op intimiteit en romanse plaas. Dit kan harde werk vat om die intieme band vars te hou – maar druk deur, al is julle hoé uitgeput. Studies bewys dat gereelde seks nie net slaapkwaliteit verbeter nie, maar ook jou algehele gesondheid kan bevoordeel.

MAAK TYD VIR MEKAAR
Baie mense dink dat kwaliteittyd net geld vir wanneer julle die aand af het en uitgaan, maar selfs net ’n vyftien-minute koffiebreek nadat die kinders uiteindelik in die bed is, is genoeg. ’n Eenvoudige “jy is my alles”-boodskap deur die dag, kan ook die wêreld se verskil maak. Waak daarteen om verby mekaar te begin lewe – gryp elke geleentheid aan om met jou beter helfte ’n konneksie te maak en die romanse aan te blaas.

LEER OM TE VERGEWE…WEER, EN WEER
Wanneer twee mense met verskillende persoonlikhede en agtergronde ’n lewe deel, gaan daar beslis wrywing wees. Man is ook maar net mens, en niemand is sonder foute nie. Maar om nie te vergewe wanneer manlief jou die hoenders in maak nie, kan groot skade veroorsaak. Verkwaliking is soos ’n suur wat net bly vreet aan julle verhouding. Negatiewe gevoelens teenoor jou man veroorsaak dat intimiteit en romanse ’n taak word, en nie meer ’n plesier is nie. Die oudste huweliksraad is om nie kwaad te gaan slaap nie, en met goeie rede. Die Engelse spreekwoord lui: “Say what you mean, but don’t say it mean.” As jy jou man vergewe het, moenie sy sondes gaan liaseer in jou kop se argiewe nie.

DOEN MOEITE
Niks wat die moeite werd is gebeur vanself nie. Daar is soveel verskillende tydskrifte en webblaaie met idees vir getroude pare. Krap ’n bietjie rond, en toets gerus van die idees uit. Belê in julle huwelik – wat jy insit, sal jy uitkry. Daar word altyd so ’n bleek prentjie geskets van die huwelik, maar dit hoef nie so te wees nie. Om die romanse aan die gang te hou is bloot ’n keuse – dis nie asof iemand inbreek deur die nag en die passie uit julle kluis gaan steel nie.

Romanse begin in jou kop. Dis die klein jakkalsies wat die wingerd vernietig, so gooi uit die negatiewe gedagtes en fokus op die goeies. Só word ’n sterk fondasie gevestig.

Vir nog verhoudingsraad, gaan lees gerus wat John (voormalige Mnr SA) en Chantelle Owens (Mrs Planet 2016) se raad is vir ’n gelukkige huwelik, in die nuutste uitgawe van Troukoors wat nou op die rak is!

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA