selfbeeldprobleme

Selfbeeldprobleme kan dikwels die mense in jou lewe wegstoot. Dit is moeilik vir die man in jou lewe om van jou te hou, as jy dit nie eers self kan doen nie. Jou Romeo se Ruan Wessels verklap hoe ouens hieroor voel.

ekspo-advertensie

Elke mens is sy eie unieke legkaart, aanmekaargesit uit dit wat jou jy maak. Waarom dan is ons vroulike spesie tog so geneig om selfbewus te wees oor ons talente en andersheid? Ruan Wessels gee die maand se enkelou perspektief oor selfbeeldprobleme.

Vrouens is maar baie geneig om hulleself hopeloos te ernstig op te neem en berge van molshopies te maak as dit by hulle selfbeeld kom. Die ergste van alles is dat niemand dit tien-teen-een as ’n probeem sou beskou het, as as ons nie self so groot bohaai van dit gemaak het nie. Hierdie bohaai is juis een van die jakkalsies wat die liefdeswingerd kan verwoes. As dames net kan leer om bietjie uit hulle eie pad uit te staan en minder selfbeeldprobleme te hê, dan sal verhoudings soveel minder gekompliseerd wees.

Ruan Wessels is ’n man wat nie omgee of ’n meisie blond of brunet is nie, sy mag maar sandale dra en ’n hamburger geniet. Kurwes vang ook beslis sy oog. In sy nuutste fliek, Jou Romeo, speel hy Marco Marais, ’n tipiese skoolseun wat mal is oor krieket, kuier en meisies. Alhoewel hy nie jou klassieke jock is nie. Hy is ’n baie vriendelike ou wat almal mooi hanteer en is baie gemaklik met wie en wat hy is. Daarby doen hy wat hom gelukkig maak. Dinge begin verander wanneer hy deur die dramagroepie van die skool genader word om die hoofrol in hulle verhoogproduksie Romeo en Juliet te speel – in ruil vir ekstra wiskundeklasse. Die bleeksiel, Yvette (Elani Dekker) begin onder sy vel inkruip en sy aan die anderkant leer ’n ander kant van die skool se sportheld ken.

“Volgens my is die belangrikste boodskap van die film om ten alle tye en tot die beste van jou vermoë te probeer om jouself te wees, ongeag van die groepies waarin mense hulle bevind. Ek dink mense moet Jou Romeo gaan kyk, want dit is regtig oulik en snaaks. Gehore sal kan identifiseer met die situasies wat in die film geskep is. Hulle sal die reis waardeur die karakters gaan baie geniet.”

HOE VOEL MANS OOR VROUE EN HULLE SELFBEELDPROBLEME?
“Ek dink mans is al ’n bietjie gewoond daaraan, maar daar is nogsteeds sekere selfbeeldprobleme wat my soms ontkant vang soos as hulle begin huil en ’n vloermoer gooi in Cotton On, dit is dinge bietjie te ver vat!”

WATTER SELFBEELDPROBLEME IRRITEER JOU DIE MEESTE EN WATTER SAL MAAK DAT JY ‘N VERHOUDING BEÏNDIG?
“As meisies aangaan omdat hulle voel jou vorige meisie is mooier as wat hulle is.”

WAT MAAK ’N MEISIE VIR JOU AANTREKLIK EN HOEKOM?
“’n Goeie sin vir humor. Ek wil lekker saam iemand nonsens kan praat en lekker lag.”

AS JY VIR VROUE RAAD KON GEE OOR HOE OM BETER OOR HULLESELF TE VOEL WAT SAL DIT WEES EN HOEKOM?
“Aanvaar net jouself vir wie en wat jy is en geniet alles om jou. Wees gemaklik met jouself. Die meeste van die selfbeeldprobleme waaroor dames aangaan sien ons nie eers raak nie.”

BOEKWURM- EN KULTUURMEISIES IS MAAR SKU VIR DIE SPORTMANNE (SOOS DIE KARAKTERS IN JOU ROMEO) EN ANDERSOM. WAT IS DIE GROOTSTE UITDAGING OM DIE GAPING TE OORKOM?
“Ek sou sê leer mekaar maar eers ken voordat jy net aanneem dat die ander persoon ’n sport- of drama-stereotipe is.”

WAT IS VIR JOU DIE DEFINISIE VAN ’N GOEIE SELFBEELD?
“As jy gemaklik is met jouself en nie omgee wat ander mense van jou se of dink nie en gelukkig is met wie jy is.”

Selfbeeldprobleme kan dalk keer dat jy saam met jou Romeo opeindig, so leer om te ontspan en te evalueer of die probleme regtig so belangrik is.

Jou Romeo draai vanaf 23 Desember 2016 in fliekteaters landswyd, is deur The Film Factory SA vervaardig en word deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik. Gaan LIKE die fliek op Facebook en gaan kyk solank die lokprent.

Foto: Verskaf
Artikel: Yolande van Deventer

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA