sjokolade 1
Geskenkies vir die gaste by jou troue, kan nogal ʼn kopkrap afgee. Sjokolade is ʼn klassieke gunsteling wat enige gas spesiaal laat voel, veral met ietsie uit ʼn professionele sjokoladehuis soos Huguenot fine chocolates in Franschoek.

Die fliek Chocolat, het die wêreld weer laat verlief raak op kakao en die eeue oue flirtasie daarvan met die mens se hartsake. Ou getroude en nuut verliefde gaste kan nie help om weer daardie opwinding van die liefde op ʼn troue te voel nie, en die een smaak wat dit vasvang is die van fluweel sjokolade. Hierdie smelt-in die-mond lekkerny bly darem maar ʼn besonderse bederfie. Jy hoef nie eers ʼn soet tand te hê om deur díe boontjie verlei te word nie want daar is ietsie vir elkeen in die kakao boetiek. Bederf jou gaste gerus met so verleidelikheid.
 
HANDGEMAAK MET LIEFDE
So met die instap in die sjokolademakers, Danver Windvogel en Denver Adonis, se winkel in Franschoek, kan jy nie anders as om romanties te voel nie. Díe Belgies gekwalifiseerde manne het uithaler sjokolade wat selfs die grootse bitterbek se hart sal smelt. Jy kan jou gaste laat weglê aan die mooiste goedjies wat gevul is met eksotiese smake van kaneel, chilllie, sjampanje en wyn, om maar net ʼn paar te noem. Boonop kan jy ʼn proe-toer doen (11 uur in die oggend en 3 uur in die middag) om jou keuse te maak. Vir ʼn bietjie ekstra kan hulle jou selfs ʼn kans gee om jou hand daaraan te waag. Dit kan sommer ʼn lekker kuiersessie saam met jou strooimeisies ook wees, so tussen die pragtige berge. Kyk uit vir ʼn sjokolademaker in jou streek, dit is ʼn besonderse ervaring.
 
PERSOONLIKE STEMPEL
As jy ʼn doen-dit-self bruid is, is sjokolade ʼn ekonomiese manier om jou persoonlike stempel af te druk. Gebruik ʼn goeie kwaliteit sjokolade en smelt dit in vormpies van jou keuse en verpak dit mooi. Of gebruik die reseppie hieronder om jou eie truffels te maak om jou gaste mee te beïndruk. Nog ʼn oulike idee is om ʼn oulike boodskappe en selfs julle foto op sjokolades van julle keuse te laat aanbring. Mense soos Chocolate Art in Gauteng is net die regte mense om te vra.
 
TUISGEMAAKTE SJOKOLADE-TRUFFELS
Genoeg vir 12
Reg in 2 ure
 
Bestanddele:
250 g donkersjokolade, gekap
125 ml (½ k) room
5 ml (1 t) vanieljegeursel
Kakaopoeier of gekapte neute vir bedek

Metode:

  1. Sit die sjokolade in ’n bak.
  2. Bring die room tot prutpunt in ’n klein kastrol. Giet oor die sjokolade en voeg dan die vanieljegeursel by. Laat staan ’n paar minute; roer dan tot glad.
  3. Laat afkoel en verkoel dan ’n uur in die koelkas.
  4. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
  5. Skep balle van die ganache met ’n teelepel uit. Rol vinnig in jou hande om in gladde balle te vorm en pak dit dan op bakplaat. Verkoel ’n halfuur in die koel.
  6. Rol in kakaopoeier of gekapte neute en sit voor of bêre in die koelkas.

PRAKTIES EN MOOI
ʼn Pluspunt van sjokolade is dat jy dit kan deel maak van jou tafel se dekor. (Jy hoef ook nie hierdie dekor af te dek nie…die gaste doen dit vir jou.) Gebruik papier of houertjies wat jou kleurskema komplimenteer om die sjokolade in te verpak of pak dit net so op die tafel. Kaal hout tafels is baie gewild op die oomblik en onverpakte sjokolade met oneweredige afwerking pas perfek daarby. Sjokolade is so veelsydig, feestelik en adellik, ʼn perfekte pasmaat vir jou sprokiesdag.

Artikel: Yolande van Deventer
Foto’s: Lake Champlain Chocolates

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA