’n Slank lyf is wat elke bruid op haar troudag soek. Slank (kykNET-kanaal 144) se dieetkenner gee raad om te keer dat die winter jou somerlyf bederf.

Slank, met Leandie du Randt-Bosch as aanbieder, is tans elke Maandagmiddag te sien om 17:30 op kykNET, kanaal 144. Dit volg ’n paar deelnemers se verslankingsreis en deel ook nuttige raad oor gesondwees en mooilyk.

Careen Visagie, een van die kenners op die program, meen dat ’n slank somerlyfie in die winter ontstaan. Keer so dat winter maak dat jou trourok nie pas nie!

ONTHOU WAARVOOR JY WERK
“Bou ’n prentebord of maak foto’s bymekaar om jou groot dag vir jouself uit te beeld – iets wat visueel is wat jou dwarsdeur die winter kan herinner van die groot dag wat kom. Skryf dan drie goed neer wat jy weet vir jou struikelblokke is en jou gewig en gesondheid nadelig beïnvloed. Na aanleiding hiervan, besluit dan op drie goed wat jy kan doen om hierdie struikelblokke teen te werk en te voorkom en herinner jouself daagliks hieraan.”

RAAK BEWUS VAN WAT JY NODIG HET
“As jy lus voel om te eet, vra jouself eers af of jy werklik honger is. As jy nie honger is nie, moenie eet nie maar drink ’n glas water en stel ondersoek in na jou werklike behoefte en doen moeite om dit te vervul. As jy byvoorbeeld moeg is, neem ’n blaaskans; as jy ontsteld voel, trek ’n papier en pen nader en skryf neer hoe jy voel en wat dit veroorsaak het, hanteer dit wat jy kan en vergewe as jy nodig het om te vergeef of gesels met iemand as dit is wat nodig is; en as jy koud kry en voel jy wil iets eet ter wille van die honger, maak ’n lekker warm koppie tee. Bly slim en slank hierdie winter.”

BEWEEG MEER
“Die mens het ’n natuurlike geneigdheid om lui te raak soos die dae korter en kouer raak. Ons soek dan ook makliker na trooskos wat warm maak. Neem ’n doelbewuste besluit om meer te beweeg. Trek ’n springtou nader en spring tou om warm te word, of sleep ’n vriendin saam en gaan stap ’n paar keer om die blok. Parkeer jou kar so ver moontlik van die werk of winkel se ingang en help jouself om meer te stap. As jy meer energie verbrand as wat jy inneem sal jy slank bly en nie gewig optel nie.”

As jy deur die loop van die winter ’n paar gesonde gewoontes kan vaslê, het jy reeds ’n groot voorsprong om gewig te handhaaf of af te gooi met die aanvang van die lente en ’n slank troulyf te hê.

Skakel vanaand om 17:30 vir die nuutste aflewering van Slank en besoek hulle webblad vir nog nuttige raad en wenke. Daar is ook verskeie bekendes wat aan die program deelneem, waaronder Kevin Leo en Mimi Mahlasela.

Foto’s: Freepik en verskaf

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA