Die spyskaart maak ’n groot deel uit van die geselligheid by jou troue. Yolanda Wessels gesels met Black Oystercatcher Wines oor watter opsies bruide kan oorweeg.

Die verskillende seisoene, diverse smake en kostes is alles belangrike elemente om in gedagte te hou as jy jou trouspyskaart kies. Sandra Human van Black Oystercatcher verklap watter spyskaart die bruidspaar, familie en gaste gelukkig sal hou.

SEISOENALE GEREGTE
Volgens Sandra is dit belangrik om die seisoene in ag te neem. Black Oystercatcher Restaurant glo daarin om bestanddele vars te gebruik, gewoonlik uit hulle eie groente-en kruietuin. Dus hang dit af wat op daardie stadium in seisoen en beskikbaar is.
“Ons leef volgens die seisoene,” sê Sandra. “Vars bestanddele dra baie by tot die kwaliteit maaltye. Gaste kan altyd die verskil proe want kwaliteit staan altyd uit.”
Sy stel vyf idees voor vir trougeregte op jou spyskaart, om te verseker dat gaste hierdié aand sal onthou.

1. Geroosterde Eend
Sandra sê: “Geroosterde eend is ’n unieke en redelik ongewone gereg vir jou spyskaart – ’n ‘wow’ gereg. Dit is nie iets wat ’n mens elke dag eet nie.”
Geroosterde eend met lemoen werk baie goed. Die eend word gekook in ’n lemoensapaftreksel (maar moenie die vars kruie vergeet nie).

2. Verskeidenheid lamsvleis
Om kostes te bespaar, is dit slim om verskillende klein disse uit lam te maak. Sandra sê: “Bedien drie verskillende snitte of geregte op ’n bord, soos byvoorbeeld oondgebakte lamskenkels, stadig-gebakte rugstring met ’n sjokolade- en brandrissiesous, en gekarameliseerde ribbetjies. So kan jy die hele lam gebruik, wat help om kostes te bespaar en meer volhoubaar te werk.”

3. ’n Ander tipe hoofgereg
In plaas van een groot gereg, is dit nou nuwerwets om kleiner disse op jou spyskaart te bedien. “Hierdie geregte is groter as canapes maar kleiner as ’n voorgereg.”
Sandra sê ’n mens kan begin met ’n beetsop wat liggies gegeur is met gemmer en salie en botterskorsie-wonton. Volg dit op met ’n Forelslaai en dan mini-roosterkoeke (met verskillende vulsels soos groenvye en Brie-kaas). Vir die vierde gereg, bedien ’n klein porsie filet (ongeveer ’n 100 gram), met tamatie, eiervrug en fetakaas.
Sy sê: “Vir ’n nagereg, kyk na ’n trio van disse, soos ’n klein melktert, sjokolademousse en truffels.”

4. Nagereg: Speel met ’n koek met verskillende lae
“Dit maak sin om die troukoek te gebruik as die nagereg,” sê Sandra. Nie net is dit heerlik nie, maar dit kan ook help om ’n bietjie geld te spaar en te verseker dat die troukoek nie oorbodig is nie. ’n Koek met drie lae, wat bestaan uit ’n wortelkoek, ’n witsjokolademoussekoek, en ’n rooifluweelkoek, kan ’n smullekker verskeidenheid bied op jou spyskaart.

5. Nagereg: ’n ‘kaaskoek’ met ’n verskil
Hierdie opsie is nie ’n regte koek nie, maar een saamgestel uit verskillende kase wat mooi gepak is. Sandra sê: “Bedien hierdie nagereg met ’n verskeidenheid ingelegte en/of vars vrugte om dit af te rond.” Die wyne wat bedien word by die troue, sal die kase mooi komplementeer.

Wees anders en stel ’n spyskaart saam wat jou gaste se asems sal wegslaan.

Foto: Freepik

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA