swanger_bruid

Om ’n swanger bruid te wees wanneer julle jul huweliksbeloftes hernu, kan nogal ’n uitdaging wees maar dit hoef nie jou dag te bederf nie.

Dit kan baie opwindend wees om huweliksbeloftes te hernu, maar wat as jy die keer ’n swanger bruid is? Gina van Staden gee raad om te help dat jou dag steeds onvergeetlik sal wees, sodat jy die gelukkigste swanger bruid ooit sal wees.

DIE SWANGER BRUID SE ROK
Dis algemene kennis dat ’n swanger vrou se middel ’n bietjie (of heelwat) gaan ‘swel’, maar jy kan nogsteeds mooi lyk! Die beste keuse, vir ’n swanger bruid, is ’n lospassende A-lyn rok, verkieslik uit sagte materiaal gemaak. ’n Lyfband om jou middel sal jou magie ook mooi omraam. Die beste neklyn is ’n V-nek met sterk ondersteunende bandjies.

DIE SWANGER BRUID SE SKOENE
Al wil almal die mooiste, fynste skoentjies dra, is dit nie die beste idee vir swanger voete nie. Voete is geneig om te swel tydens swangerskap, en die ekstra gewig daarop sal net sorg dat jy teen die einde van die aand in trane is. Hou ’n mooi paar skoene byderhand vir foto’s, maar trek dit weer uit sodra jy moet loop.

DIE SWANGER BRUID SE ONDERKLERE
’n Swanger bruid se borste kan swaar en seer raak, so maak seker dat jy die regte bra het wat by jou rok sal pas. ’n Mens kry ook oulike ondersteuningsbroekies wat help om die drukking van jou groeiende maag te verlig. Hou net in gedagte dat jy nou meer gereeld badkamer toe gaan, so hou jou onderklere eenvoudig genoeg.

DIE SWANGER BRUID SE GRIMERING
Tydens swangerskap styg ’n vrou se liggaamstemperatuur, so dit beteken dat ’n swanger bruid se grimering vinniger kan afsweet. Hou ’n nood-grimeersakkie byderhand, en onthou net om ’n spieëltjie ook in te sit.

WAT DIE SWANGER BRUID NOG BYDERHAND MOET HOU:

WATER
Hou die heeltyd ’n bottel koue water byderhand – jy kan selfs een van jou vriendinne of dogters op ‘waterwag’ sit. ’n Swanger bruid moet minstens 2-4 glase water ekstra drink per dag, so met al die rumoer op julle spesiale dag behoort jou hidrasie-bewustheid baie hoog op die lys te wees.

SNEESDOEKIES
Sorg dat jy baie sneesdoekies tot jou beskikking het  – ons almal weet hoe emosioneel ’n swanger vrou kan raak!

NOODHULPSAKKIE
Elke vrou kry ander simptome, maar voorsorg is beter as nasorg. Hou ’n sakkie met Gaviscon (sooibrand), Panado (kopseer, pyn), Emetrol (naarheid), yspakke (seer rug/bene), en enigiets wat jou spesifieke kwale, as ’n swanger bruid, kan verlig, byderhand.

’n Swanger bruid, met haar magie mooi omraam, kan een van die mees idilliese prentjies wees. Met goeie beplanning kan julle huweliksbeloftes in ’n japtrap hernu word!

Foto: My Glass Slipper

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA