’n Swanger strooimeisie kan die bruid nogal laat kopkrap wanneer dit kom by rokkies vir die gevolg. Maar dit hoef nie ’n krisis te wees nie. Hoiden Bridesmaids gee aantrekraad.
Spaar R44.90 as jy Die Trouboek & Troukoors tydskrif nou bestel! Betroubare posdiens word gebruik.
STAP 1 – Betaal R170 in ons bankrekening in:
Naam van rekeninghouer: MonCheri Events and Productions CC | Rekeningnommer: 189 103 463 4 | Takkode: 189 137
Bank: Nedbank Vaal Mall | Tipe rekening: Tjek | Verwysing: Jou naam, van en selfoonnommer
STAP 2 – E-pos jou naam, van en posadres saam met die betalingsbewys na info@bpwpprebuild.co.za
Kliek hier vir meer informasie oor Die Trouboek en Troukoors se tydskrif.
————————————————————————————
Jy was nie swanger toe jou beste vriendin jou gevra het om deel te wees van die gevolg vir haar troue nie… maar nou is jy die swanger strooimeisie en almal voel skielik paniekerig. Maar dit hoef nie ’n krisis te wees nie, want ’n swanger strooimeisie kan ’n baie mooi een wees op die dag met die regte raad. Ons het die kenners by Hoiden Bridesmaids gevra wat hulle dink die beste aantrek-opsies is vir ’n swanger strooimeisie.
WATTER ROKSNIT LYK DIE MOOISTE AAN ’N SWANGER STROOIMEISIE?
“Ons beveel altyd aan dat ’n swanger strooimeisie ’n Empire-snit moet aantrek. ’n Styl wat ’n naat het onder jou borste, in plaas van in jou middel, sal verseker baie meer vleiend wees omdat dit die kleinste deel van jou liggaam sal beklemtoon, aangesien jy nie meer veel van ’n middel sal hê op die dag van die troue nie. ’n Sagte, vloeiende rok is altyd ’n wenner, so loer gerus na ’n styl wat vanaf die Empire-naat mooi sal val en geen ongemak sal veroorsaak op die magie nie.”
WATTER TIPE HAARSTYLE SAL MOOI PAS BY HIERDIE ROKKE?
“Ons glo dat die haarstyl nie die rok maak nie, dit maak die gesig, so doen met jou hare waarmee jy gemaklik is. As jy nie gewoond is aan ’n upstyle nie, gaan eerder vir ’n losser, meer gemaklike half-op-half-af styl. Ons rokke gee jou die vryheid om enige haarstyl te dra en jy sal nogsteeds mooi lyk.”
WATTER TIPE BYKOMSTIGHEDE KAN OORWEEG WORD?
“Mooi oorbelle is altyd detail wat ’n rok opkikker. Wees net versigtig vir ’n hangertjie – ’n hangertjie kan jou baie vinnig verouder. As jy wel ’n hangertjie wil dra, kies iets wat klein en fyn is. ’n Mooi haarknip of selfs iets so eenvoudig soos blomme in die hare is ook ’n wenner.”
WATTER KLEUR ROKKE SAL DIE SWANGER STROOIMEISIE SE FIGUUR VLY?
“Enige kleur! Moenie dat jou swangerskap jou keuse van kleur beïnvloed nie. Die kleur is gewoonlik die bruid se keuse, so in hierdie geval het sy die sê. As sy wel vir jou vryheid gee oor die kleur, kan jy meer fokus op jou velkleur en wat jou die sal beste pas.”
PARTY MENSE HOU VAN IETS WAT STYF OM DIE BOEPIE PAS EN ANDER VAN LOS KLERE – WAT DINK JY WERK DIE BESTE?
“Beslis dat die rok bietjie losser om die magie sit – nie net omdat dit meer vleiend is nie, maar ook omdat dit beslis baie gemakliker vir jou sal wees sodat jy net daarop hoef te fokus om die dag te geniet.”
WATTER TIPE SKOENE BEVEEL JY AAN VIR ’N SWANGER STROOIMEISIE?
“Ons het al swanger strooimeisies gesien wat baie gemaklik is in hoë hakke, alhoewel ons beslis sal aanbeveel om eerder vir ’n gemaklike maar elegante plat skoen te gaan. Jy behoort die hele dag op jou voete te wees – hoë hakke en reeds geswelde voete is dalk nie ’n goeie kombinasie vir ’n swanger meisie nie.”
WAT KAN ’N STROOIMEISIE DOEN OM HAAR ARMS WEG TE STEEK?
“As jy voel jy wil jou arms wegsteek, kyk na iets soos ons extended lace capsleeve rok, waar jy ietwat van ’n moutjie het, wat baie aandag van jou arms afneem. Jy kan ook kyk na ’n deurskynende kant mou wat nie te warm sal wees vir die hittige somersdae nie, maar ook baie vleiend is al is dit noupassend.”
WATTER STYLE MOET DIE SWANGER STROOIMEISIE LIEWER VERMY?
“Vermy enigiets wat noupassend om die magie en heupe is of wat baie kort is. Oorweeg eerder om vir iets te gaan wat van rekbare materiaal gemaak word in plaas van iets wat byvoorbeeld ’n ritssluiter het om ongemaklikheid te vermy en enige gevalle te voorkom waar boepie oornag gegroei het en die rok nie meer pas nie.”
WATTER ANDER RAAD HET JY VIR SWANGER STROOIMEISIES?
“Moenie jou magie probeer wegsteek nie. Dis ’n eer en voorreg vir enige bruid om een van haar swanger vriendinne en strooimeisies by haar te hê op haar groot dag. Julle altwee gaan deur van die grootste en opwindendste tye van julle lewens, en dit is baie spesiaal.”
HOIDEN BRIDESMAIDS spesialiseer in strooimeisie uitrustings, besoek hulle op Facebook om meer uit te vind.
Foto’s verskaf