Jou trou-album vertel die mooiste stories. Dit is die narratief van jou mooiste dag wat al die mooi en emosie daarvan vasvang. Hier is tien oomblikke wat jy beslis moet vasvang.

 
Jy verdien ’n duisende pragfoto’s van jou troue, maar dikwels is ’n handvol asemrowende foto’s genoeg vir ’n sprokiesverhaal. Troufotograaf, Lucia Beukes, van D’Amor Photography verklap watter trou-oomblikke haar gunsteling is om af te neem en wat elke trou-album net moet hê.

SLUIER-SKOONHEID
Die sluier is ’n embleem van vroulikheid en elegansie wat jy net een keer in jou lewe kan dra. “Die sagtheid en vroulikheid wat so ’n foto kommunikeer is iets wat elke vrou op haar troudag moet beleef,” sê Lucia. So as jy ’n sluier gaan dra, maak seker jou fotograaf maak die beste daarvan, dit gaan pragtig lyk in jou trou-album.

’N OOMBLIK TUSSEN MA EN DOGTER
Die spontane oomblik van liefde tussen ma en dogter is volgens Lucia een van die kosbaarste oomblikke vir elke bruid op haar troudag. Nooi jou ma om jou te kom help aantrek en maak só seker dat daar oomblikke is om te koester in jou trou-album.

DIE GROET VOOR DIE KANSEL
Hierdie foto-oomblik gebeur wanneer jou pa jou aan jou nuwe man ‘afgee’, net voordat jy ’n mevrou word. “So ’n emosionele oomblik is ongelooflik kosbaar en wys gewoonlik die liefde wat ’n skoonpa en skoonseun vir mekaar moet hê,” sê Lucia.

DIE BRUIDEGOM
’n Spogfoto van jou nuwe manlief is beslis ’n vereiste vir elke trou-album. Vir Lucia is natuurlikheid en spontaniteit belangrik. “Sy persoonlikheid moet uitstraal en die rede waarom die bruid met hom trou moet duidelik word,” sê sy. Baie fotograwe is geneig om net op die bruid te fokus, so beklemtoon voor die tyd dat jy graag genoeg foto’s van jou aanstaande ook wil hê.

PASGETROUD
Direk na die opwindende eerste soen as getroudes volg dié oomblik. “Hierdie ongelooflike persoonlike reaksie tussen man en vrou is ’n oomblik wat vir elke trou-album vasgevang behoort te word,” verduidelik Lucia.

KONFETTI-TYD
Of dit nou roosblare, borrels of graankorrels is, ’n konfetti-foto is ’n moet vir jou trou-album. Lucia sê: “Die opgewondenheid van beide die bruidspaar en gaste is altyd ’n ongelooflike oomblik om af te neem.”

VERWONDERING
Die bruidegom se gesig, wanneer sy bruid met die paadjie af loop, is gewoonlik ’n gesig om te aanskou. Dit is gewoonlik geluk met die eerste oogopslag. Lucia meen: “Elke bruid verdien so ’n foto in haar trou-album, wat die verwondering vasvang wanneer haar bruidegom haar vir die eerste keer sien.”

LAWWE LIEFDE
Neem ’n oomblik om die vreugde en opwinding van pasgetroudheid te geniet. “Elke trou-album moet ’n foto hê wat die paartjie se unieke verhouding weerspieël,” vertel Lucia. Hierdie is die oomblik tussen foto’s wanneer die pasgetroudes spontaan hulle emosies uitdruk.

’N OOMBLIK VAN STILTE
Dis belangrik vir paartjies om so vyf minute na die seremonie in te werk om saam te bid. “Die gebaar is so opreg en verseker ’n oomblik wat elke bruidspaar moet beleef saam met God,” vertel Lucia. Daar is ook baie sulke oomblikke wanneer die paartjie voor die kansel staan.

MET DIE INTRAPSLAG
Wanneer die paartjie, hand-aan-hand, die onthaalsaal binnestap, is altyd ’n baie spesiale oomblik. Lucia meen: “Hierdie oomblik is propvol emosie en kan die mooiste foto’s vir jou trou-album lewer.”

As jy jou troustorie vertel, maak seker dat hierdie kosbare oomblikke vasgevang word, sodat wanneer jy smoorverlief en bruingebrand van jou wittebrood terugkeer en selfs na julle hoeveelste huweliksherdenking, jy steeds deur jou trou-album kan blaai en dié spesiale oomblikke kan koester.

Artikel: Alexa Swart
Foto’s: Lucia Beukes

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA