Julle wil graag julle eie troubeloftes skryf vir die belangrikste dag in julle lewe, maar weet nie waar om te begin nie. Hier is raad wat die hele proses vir julle altwee sal makliker maak.

Jy het dit al ’n duisend keer in flieks of by ander troues gesien en dit is vir jou so mooi as paartjies ’n deeltjie van hulle harte met mekaar deel op hulle troudag met persoonlike troubeloftes… en jy het soveel wat jy graag vir die liefde van jou lewe wil sê, maar jy weet net nie hoe of waar om te begin nie. En dan praat jy nie eers oor die feit dat jy dit hardop moet sê voor ’n kerk vol mense nie.

Wel, dit hoef nie moeilik te wees nie. Die geheim is om troubeloftes woord-vir-woord te benader en uit jou hart uit te skryf en te praat. Hier is ’n paar wenke om die proses vir jou makliker te maak.

KYK NA VOORBEELDE
Lees al die voorbeelde wat jy in die hande kan kry en kyk ook flieks waarin jy weet hulle troubeloftes gebruik… hoe meer jy hieroor lees, hoe duideliker sal dit vir jou word hoe jy dit moet benader en wat mooi sal klink. Dit is ’n wonderlike manier om inspirasie te kry vir die taak wat jy moet aanpak. Maak notas oor die sinne, woorde en idees waarvan jy gehou het en hou dit byderhand vir wanneer jy moet begin skryf.
* Die fliek What’s Your Number en Wedding Crashers het oulike troubeloftes in!

GEBRUIK DIESELFDE STYL EN AANSLAG AS JOU VERLOOFDE
Dit sal nogal aardig wees as jy ’n komiese aanslag gebruik, terwyl jou verloofde met ’n hartroerende en emosionele toespraak die gaste se oë laat traan. So gesels voor die tyd oor watter aanslag julle wil gebruik en hoe lank die beloftes min of meer moet wees. Op hierdie manier skakel jy sommer maklik enige ongemaklikheid en struwelinge uit en is julle altwee op dieselfde bladsy.
* Kort en kragtige troubeloftes, het soms meer impak as lang toesprake wat nie jou maat of mense se aandag hou nie.

MAAK NOTAS OOR JULLE VERHOUDING
Die lekker daarvan om jou eie troubeloftes te skryf, is dat dit jou die geleentheid gee om bietjie te dink aan al die aspekte van julle verhouding en ook aan die herinneringe wat julle al saam gemaak het. Sulke elemente kan lekker werk wanneer jy jou troubeloftes saamstel, omdat dit dit meer persoonlik maak. Vra vir jouself:
Hoekom het jy besluit om met die persoon te trou?
Deur watter moeilike tye is julle al saam?
Tydens watter krisisse moes julle mekaar ondersteun?
Watter uitdagings wag in die toekoms?
Wat maak julle verhouding spesiaal?
Wat is julle doelwitte?
Wat het jy gedink die eerste keer toe jy die persoon ontmoet het?
Hoe het jy geweet jy is lief vir die persoon?
Hoe het jou lewe verander vandat julle ontmoet het?
Watter eienskappe respekteer en bewonder jy van jou toekomstige huweliksmaat?

MAAK ’N PAAR BELOFTES
Dit is altyd goed om ’n paar troubeloftes te maak oor dinge wat jy vasbeslote is om vir jou toekomstige lewensmaat te doen, soos: “Ek belowe om altyd vir jou lief te wees en dit vir jou te sê elke aand voor ons gaan slaap.” Dit is egter baie belangrik dat jy hierdie beloftes hou, so dink baie mooi daaroor.

SKRYF DIT UIT
Jy skryf baie keer die beste teks wanneer jy dit stap-vir-stap benader. Skryf ’n basiese raamwerk neer van wat jy wil sê en begin dit dan redigeer en mooimaak. Hou aan skaaf totdat jy heeltemal tevrede is met die eindresultaat.

OEFEN DIT HARDOP
Hoe beter jy dit ken, hoe minder is die kans dat jy sal stotter en vergeet wat jy wil sê. Dit sal ook help om aan jou eie stem gewoond te raak, sodat jy jouself nie boeglam skrik wanneer jy dit vir die eerste keer moet hardop lees in die kerk nie. Navorsing het ook bewys dat wanneer jy iets herhaaldelik hoor en sien, jy dit beter onthou. Kyk ook in die spieël oor hoe jou gesigsuitdrukking lyk wanneer jy jou troubeloftes aflees. Emosie en opregtheid is baie belangrik wanneer jy dit met jou lewensmaat deel.

MAAK DIT TOEGANKLIK
Gebruik flitskaartjies of ’n skoon papier, waarop die troubeloftes groot uitgedruk is, op die dag van jou troue. Maak seker dat daar geen notas op geskryf is nie en dat alles mooi en duidelik is, want wanneer die senuwees knaag lees jou oë partykeer nie heeltemal reg nie. ’n Oulike idee is om, soos Mike en Lauren, boeke te kry en dit daaraan in te skryf en dan vir mekaar as geskenk te gee.
* Begin dalk maande voor die troue met die boek en skryf alles wat julle oor mekaar voel neer, sodat julle lekker vol boekies (gevul met spesiale gedagtes) vir mekaar kan gee.

Jy kan die mooiste troubeloftes deel op jou troudag as jy lank voor die tyd daarmee begin en daaraan timmer tot dit perfek is. Lekker skryf!

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA